BLOEI. ‘n Titel. ’n Simbool van groei. En hierdie jaar die hartklop van ’n produksie wat sedert 2008 van ’n eenvoudige kerkprojek in ’n klein dorpie, tot ‘n opregte DRAMAtiese belewenis ontwikkel het – met JF-leerders en oudleerders reg in die middel van die aksie.
“Dramaties” het onder leiding van ds. Francois Lamprecht ontstaan, by die NG Kerk in Oudtshoorn, as ’n manier om jong mense te help om meer te leer oor die lewe saam met God. Van daar het dit saam met hom na Stellenbosch verhuis, waar dit verder gegroei het en uiteindelik ’n nuwe tuiste by die Pellissier-gemeente in Bloemfontein gevind het. Dié jaar het Pelliser se toneelstuk, BLOEI, op 27 tot 30 Julie plaasgevind. Elke aand van die drama volg op mekaar, en alhoewel dit net vier aande plaasvind, neem die beplanning en voorbereiding van twee maande tot selfs ’n jaar.
Vanjaar het die verhoog ook ’n bietjie van JF se kleur gekry. In die toneel is die rol van Davina, die dominee se vrou, gespeel deur Tineke Janse van Rensburg, ‘n JF-leerder in graad 11, en nie nét het sy die rol gespeel nie, maar die karakter het haar ‘n ding of twee geleer.
“Deur Davina te speel, het ek geleer van hoe hoop lyk. Alhoewel Davina ’n moeilike agtergrond gehad het, het sy haar hoop gehou, en haar man gehelp en opgebou daardeur. Ek het geleer hoe om aan daai hoop vas te hou, dit met ander te deel en ander op te bou daarmee. Ook hoe om vas te staan in jou geloof, en dit te gebruik om ander te ondersteun.”
JF het egter nie net voor die kameras verskyn nie, maar ook agter die skerms. Die hoof van die bouspan was JF se onderhoofdogter van 2024, Elseri Venter.
“Dis iets baie besonders om te sien hoe die Here ’n pad met elke individu stap en hoe hulle groei so deur die loop van die week. My bloed is nog steeds 100% groen en dit was vir my só lekker om soveel bekende JF-gesiggies by DRAMAties ’25 te erken.”
Verder op die dekorspan was nog ’n oudleerder, Rianette Kemp, en ’n graad 10-leerder, Theani Botha.
Die produksie het klem gelê op groei en verandering – en die ongemak wat dit soms bring. Dit het gehandel oor dominee Josef Daniël Delport, of meer bekend as “Jos,” wat sy passie vir die Here verloor en weer soek na die avontuur en groot lewe wat sy verhouding met God eens was. Met tyd verstaan hy dat hy dit verloor het as gevolg van vrees en die veilige gemaksone waarin hy geleef het. Hy en sy vrou, Davina, bly in ’n klein dorpie, waar hulle wegkruip van Davina se kriminele familie, en terwyl Jos verandering in ’n konserwatiewe gemeente probeer bring, kry hy teenstand van Talia, die koster van die kerk, wat as gevolg van haar eie geraamtes, nie verandering duld nie. Sy word wel op haar tone gehou deur André, die Duitse orrelis, wat net met ’n snuifie, ’n kopskud en ’n snaakse aksent, die gehoor laat lê het van die lag.
Dramaties is nie jou tipiese kerktoneel nie. “Ons gebruik drama, musiek en die Bybel om jong mense te wys watter amazing God ons dien,” sê ds. Francois. “Dit delf diep – in geloof, in sielkunde en in die mens self. Dis altyd van toepassing op die daaglikse lewe, en verveeld raak jy beslis nie. Elke jaar bring iets vars: van feëverhale en verlore ruimtetuie tot kannibalistiese navigators en psigiatriese inrigtings. Dis altyd iets nuut. As jy oop is om te luister sal DRAMAties jou help groei – nes ‘n blom wat begin om te BLOEI.”
0 Comments