JF OESTER

JF-leerders bring lag en liefde na Westerbloem Ouetehuis

Sep 1, 2025

Berig Deur Liechen Willemse

Op Woensdag, 27 Augustus, het die ATKV-jeugtak van Jim Fouché ons trots gaan wys by die Westerbloem Ouetehuis. Ons het nie net gegaan om koekies te eet en koffie te drink nie (al was dit aanloklik), maar om ’n bietjie JF-gees, humor en liefde saam te vat.

Die program was propvol: kitaarspel wat die oumas laat neurie het, monoloog-voorlesings wat meer drama gehad het as enige Netflix-reeks, en natuurlik ons Afrikaanse trots – die Afrikaans word 100-projek – wat die dag ’n ekstra spesiale betekenis gegee het.

Maar die hoogtepunt? Die onderhoude! Ons het die inwoners gevra vir lewens- en liefdesadvies. Hier’s ’n paar stukkies goud:

’n Tannie het sonder huiwering gesê: “Moet nooit trou nie; kry vir jou ’n hond. Hy sal jou liefhê al kook jy swak.”

’n Oom het sý geheim vir ’n gelukkige huwelik met ons gedeel: “Sê net altyd ‘ja, my skat,’ selfs al weet jy sy is verkeerd.”

Nog ’n tannie het laggend gesê: “Moenie omgee oor ’n man se six-pack nie, vra eerder of hy ’n pensioenfonds het.”

Een van die jongste-in-die-hart inwoners het erken: “As ek kon teruggaan, sou ek meer gedans het en minder gestry het.”

Daar was selfs snaakse oomblikke toe ons gevra het:

“Wie was tannie se eerste crush?” waarop ’n tannie gegiggel het: “My standerd 5-wiskunde-onderwyser, maar moenie dit vir sy kleinkinders sê nie.”

“As Oom weer 18 kon wees, wat sou Oom eerste doen?” en die antwoord: “Mis skool en gaan strand toe, maar moenie dat dit by die hoof uitkom nie!”

Ons JF-leerders het nie net lag en musiek gebring nie, maar ook met ’n paar kosbare lewenslesse teruggestap. Die besoek het ons gewys dat wysheid, liefde en ’n goeie grappie altyd tydloos bly – net soos ons taal.

Soos een oom aan die einde gesê het: “Kinders, bly altyd jonk van gees. Moet nooit jou dansskoene wegpak nie – jy weet nooit wanneer daar weer musiek gaan speel nie.”

JF-leerders bring lag en liefde na Westerbloem Ouetehuis

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester KAF Mar 25, 2026

Daar is altyd lig in die donker!

As jy teen dié tyd van die kwartaal nog steeds wonder waar jy hoort, is daar daar ten minste één plek wat jou met ope arms sal verwelkom: JFFJ se nuwe LITT-kleingroepies. “LITT” staan vir Light in the Tunnel.