Die hoogtepunt van die week was die sportbyeenkomste op Saterdag, waar die spanne mekaar op die veld, baan en astro aangedurf het. Van intense rugbywedstryde tot mededingende netbal en hokkie, het die naweek gewys waarom hierdie een van die hoogtepunte op die sportkalender bly.
Rugby het vir groot opwinding gesorg, met verskeie spanne wat sterk vertonings gelewer het. Die hoogtepunt was die eerste rugbyspan se wedstryd, waar Sentraal teen ’n sterk Jim Fouché-span te staan gekom het. Albei spanne het hard geveg in ’n wedstryd vol energie, fisieke spel en vasberadenheid. Jim Fouché het uiteindelik die oorwinning behaal met 38–28. JG Noeth, losskakel vir die eerstes, sê: “Ek is trots op een en elkeen van die manne wat hulle als gegee het vir die span om die oorwinning te behaal, en dit is voorreg ‘n om saam die manne van die Green Machine te speel.”
Verskeie ander rugbyspanne het egter ook goeie resultate behaal en gewys dat die diepte van talent in die skool steeds sterk staan, al het hulle nie almal ‘n oorwinning behaal nie.
Op die netbalbane was die kompetisie ewe intens, met spelers wat uitstekende spanwerk en deursettingsvermoë gewys het. Van die junior spanne tot die senior groepe is daar hard meegeding, met sterk spel aan beide kante en verskeie goeie uitslae, wat die gees van mededingende skolesport beklemtoon het. Die eerste span het veral ’n taai wedstryd gehad met ‘n spel wat nie op sy beste begin het nie, maar goed terug gebons het, en uiteindelik ‘n telling van 34-29 vir Sentraal verseker het. JF se kaptein, Calista Viljoen, sê: “Ek is baie trots op die karakter wat ons gewys het aan die einde. Die wedstryd was nie aan die begin aan ons kant nie, maar ons het nooit opgehou terug baklei nie, en toe maak ons ’n goeie comeback aan die einde.” Al het hulle nie gewen nie, het hierdie span bewys deursettingsvermoë werp vrugte af.
Die hokkiespanne het ook hul merk gemaak met kompeterende wedstryde waarin vaardigheid, dissipline en vinnige spel duidelik sigbaar was. Beide die seuns- en meisieshokkie het goeie oomblikke opgelewer, met spelers wat hul skole met trots verteenwoordig het. Shermon Paulsen, die seunshokkie se kaptein, sê: “Die span was gereed vir ‘n stryd teen Sentraal – soos altyd – omdat hulle een van ons grootste opponente is. ‘n Wen teen hulle is altyd groot, so ons aanvaar dit nie as vanselfsprekend nie.” Terwyl die meisies se kaptein, Angelise Smith, sê dat goeie spanne uitstekende spanne word wanneer hulle mekaar vertrou en die “ek” prysgee vir “ons.”
Classic Clashes 2026 sal onthou word as veel meer as net ’n reeks wedstryde; dit was ’n viering van skolesport, toewyding en die harde werk wat deur spelers en afrigters ingesit word. Of dit nou op die rugbyveld, netbalbaan of hokkieveld was, die naweek het bewys dat ware sport nie net oor wen gaan nie, maar oor die trots, dissipline en passie waarmee elke span deelneem.



0 Comments