The Office? Nee, hiér praat ons Afrikááns! Ons praat van Die Kantoor.
Dié reeks is deur Bennie Fourie geskryf, en met ’n gedugte rolverdeling kan ons net vuurwerke verwag. Albert Pretorius, Schalk Bezuidenhout, Lida Botha, Ilse Oppelt, en Daniah de Villiers is maar van die bekende gesigte wat hierdie komedie dra.
Die reeks speel af in Klerksdorp, in die kantoor van Deluxe Processed Meats, ‘n poloniebesigheid waar alles gebeur – behalwe natuurlik om polonie te verkoop! Pretorius vertolk die rol van Flip Bosman, ‘n ambisieuse maar ietwat ontoepaslike baas wat homself as die “Die Rassie van polonie” bestempel.
Schalk vertolk die rol van Tjaart, Flip se regterhand, en ‘n skreeusnaakse kettingroker met ‘n persoonlikheid ( of ses…) wat skrik vir niks nie – nie eens vir die ongemaklike grappies wat hy so maklik maak nie. Maar dan begin alles skielik ontrafel wanneer Flip ‘n ongewenste oproep beantwoord en meer as net polonie-aflewerings wil regmaak.
Tussendeur die drama laat die akteurs se kaskenades kykers dubbel vou van die lag, en dalk ietwat blootgestel voel met die onverwagse oogkontak met die kamera.
Ek sal Die Kantoor aanbeveel vir almal 14 jaar en ouer – veral indien jy vrede kan maak met kontroversiële temas, en ’n interessante sin vir humor het!
Volgens my is hierdie dokumentêre styl-komedie meer komedie as katastrofe, en definitief iets om te oorweeg as jy net bietjie van die sorge van die lewe wil vergeet.



0 Comments