Alle drama-kinders ken die gesegde: Dit wat agter die verhoog gebeur, moet agter die verhoog bly, maar soms is dit lekker om agter die gordyn in te loer …
“Bloedval” en “Wanneer die wind draai” is Hoërskool Jim Fouche se twee tienertoneelproduksies dié jaar. Albei hierdie toneelstukke het ons naelkouend laat sit en wag oor wat volgende gaan gebeur, maar wat vind plaas wanneer die stoele leeg is en die karakters of akteurs probeer om ‘n storie te vorm?
Die akteurs en aktrises wat in Bloedval gespeel het, het hulle rolle aangepak tot die beste van hulle vermoëns, al was dit uitdagend, bv. die stres van om die perfekte boom te bou, en die vrees dat die boom nie hulle gewig gaan dra nie. Om saam te werk en die perfekte “chemistry” te kry, was aan die begin moeilik, maar daar is besluit om alle konflik agter te laat en in die karakters se skoene te klim om die beste uit elke toneel te kry.
Min slaap, vroeë oggende en laat aande het sy tol geëis, en soms is daar maar koppe gestamp, maar van deurdruk kan jy hierdie leerders niks leer nie.
Was daar drama agter die skerms?
Daar is maar altyd verskillende opinies oor hoe ’n karakter ’n sekere toneel moet uitbeeld, maar die opgewondenheid en tevredenheid om deel te wees van hierdie stories (hoewel ontstellend) het die uitdagings oorheers. Almal was dankbaar omdat hulle die geleentheid gekry het om deel te wees van hierdie besonderse produksies. Daar is gesukkel, maar op die ou einde ook baie gegiggel. Akteurs en aktrises word familie, en hoewel die stories die gehoor vorm, het dit hulle ook gevorm, en uiteindelik saamgesnoer as ’n eenheid.



0 Comments