JF OESTER

DINK OF SINK? JF skop “water” in opponente se oë!

Sep 29, 2025

Berig Deur Lisa Botha

Een onderwerp. Vir of teen. Vyf minute op die stophorlosie. Drie standpunte. En dan net een kans om jou woorde soos wapens te gebruik …

As jou hartklop nou begin versnel en jou handpalms meer sweet as ’n matriekleerling tydens ’n Skeinat-eindeksamen, dan is ek en jy in dieselfde bootjie.

Die eerste vraag wat by my opgekom het, was eenvoudig: “Hierdie leerders moet sekerlik mal soos hase wees as hulle hulself vrywillig deur só ’n marteling sit… en, glo dit of nie, dit nog geniet ook?”

Maar toe ek die geleentheid sien, het ek besef dat hierdie marteling eintlik ’n kunsvorm is. Op 22 Augustus het drie van Jim Fouché se spanne hul moed, breinkrag en woorde bymekaargeskraap en aan die Dink of Sink-debatskompetisie, wat jaarliks deur C&N Oranje Meisieskool aangebied word, deelgeneem.

Dit was ’n dag van argumente, passie en harde logika wat saamgesmelt het tot ’n klankbaan van stemme wat nie maklik vergeet gaan word nie.

Ons junior span, bekend as die Woordewapens, bestaande uit Dirk Deacon, Joah de Villiers en Hannes Deacon, het met indrukwekkende selfvertroue opgetree. Hulle kon elkeen van hul drie standpunte afvuur soos koeëls uit ’n geweer, en het dit reggekry om hul opposisie meer as een keer te laat sidder.

Die seniors, beter bekend as die Aanvallende Anties (en oom), het die verhoog betree met soveel energie dat selfs die gehoor se rug regop getrek het. Lisa Botha, Jaco Deysel en Amoné Verwey het hul naam eer aangedoen.

Beide spanne het nie net die uitdagings van die rondtes oorleef nie, maar deurgedring tot in die Vrystaat-finaal waar hulle beide ’n welverdiende tweede plek in die hele provinsie verower het. Dit beteken dat JF se debatteerders nie net deelgeneem het nie, maar die standaard kom verhoog het. Hulle het gewys dat woorde net so kragtig soos spiere en spoed kan wees.

Om op ’n verhoog te staan met honderde oë wat jou dophou, is nie vir lafaards nie. Voeg daarby ’n kamera wat letterlik by jou gesig wil inloer, en jy het ’n toneel wat maklik enige iemand se maag kan laat tuimel. Maar in plaas daarvan om te sink onder die druk, het JF se spanne bo die golwe uitgestyg. Hulle het die stres gebruik as brandstof en dit omskep in iets briljant.

Wanneer dit tyd is om te kies tussen dink of sink, kies ons leerders elke keer om te dink. En hulle doen dit met soveel styl en trots dat hulle bo die res uit swem. Die woorde mag ophou eggo in die saal, maar die impak wat hierdie spanne gemaak het, sal nog lank onthou word.

Lisa Botha

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester Kultuur May 18, 2026

Doornkloof

Terwyl die meeste JF-leerders op toer was en ander maar net lekker hul April-vakansie geniet het, het die Voortrekkers op Doornkloof gaan kamp.

Oester KAF Mar 25, 2026

Daar is altyd lig in die donker!

As jy teen dié tyd van die kwartaal nog steeds wonder waar jy hoort, is daar daar ten minste één plek wat jou met ope arms sal verwelkom: JFFJ se nuwe LITT-kleingroepies. “LITT” staan vir Light in the Tunnel.