Hoërskool Jim Fouché het die week afgeskop met ’n prettige “Manic Monday,” en daar was orals op die skoolgronde kinders in helder oranje en groen. Van die leerders het beslis “manic” gelyk na hulle met oorgawe besluit het om voluit te gaan. Op Dinsdag se “socks and sandals”-dag was bont, lagwekkende kouse orals te sien. Almal het egter op Woensdag gelyk of jy hulle deur ‘n ring kon trek met hulle netjiese Trots JF-drag. Van al hierdie pret was Donderdag die dag waarna almal uitgesien het. Donderdag was “trek-soos-jou-onderwyser-aan”-dag, en hier het ‘n klomp leerders besonders kreatief geword; jy kon nie anders as om te lag vir die leerders se verspotte uitrustings nie. Daar was groot opwinding op Vrydag toe die skool 67 jaar oud word. Die orkes Drommedaris het in die saal opgetree, en dit het een groot feesviering geword!
Voordat jy jou oë kon uitvee, was dit naweek, en die sport en gees het vlam gevat. Die ondersteuners het in groot getalle opgedaag en dit was duidelik dat hulle bloed groen is. Beide skole het goeie sportmanskap getoon, en ook ongelooflike deursettingsvermoë. Die gees was elektries en die ondersteuners was nie een oomblik stil nie, maar alle goeie dinge moet ook tot ‘n einde kom.
Dis net ‘n jammerte vir Hoërskool Sentraal dat hulle ná die eerste rugbyspan se eindfluitjie ’n biejie … “blou” gevoel het.



0 Comments