Willemien en Meraaitjie en Willie Wragtig die troeteldrakie betower sowel kind as grootmens
Ons eie Juffrou Stella Nortier verskyn nie net voor ’n witbord nie, maar op die verhoog ook! Ek het by haar gaan inloer om ’n bietjie meer uit te vind…
Willemien en Meraaitjie en Willie Wragtig die troeteldrakie is die opwindende opvolg van die gewilde kinderteaterstuk Woelige Willemien en haar maatjie Meraaitjie, wat hulle vir die eerste keer in 2020 op die planke gebring het, en in 2023 weer met groot sukses herhaal is. Ná die positiewe terugvoer en entoesiasme van gehore, het sy besluit om die avonture van Willemien en haar vriende voort te sit in ’n splinternuwe storie met vars verrassings.
In hierdie opvolg beleef die maats ’n nuwe avontuur, wat begin ná Willemien se “oorwinning” oor ’n gevaarlike draak. Maar tot almal se verbasing, blyk dit dat die draak glad nie gevaarlik was nie – net ’n eensame, klein drakie met die naam Willie Wragtig. Skielik wil almal sy maatjie wees! Maar die vreugde duur nie lank nie. Wanneer ’n nuwe bedreiging opduik, moet Willemien, Meraaitjie, Frikkie Spiertier, Bang-Jan en Gawe Gawie hul verskille opsy sit en saamwerk om die koninkryk weer te red.
Met humor, avontuur, hart en ’n sterk boodskap oor aanvaarding, vriendskap en samewerking, is hierdie stuk nie net ’n opvolg nie – maar ’n viering van verbeelding en die krag van kinders se drome, aldus juffrou Stella.
Juffrou Stella, wat die rol van Willemien vertolk, vertel dat sy ná jare se ondervinding nog steeds gespanne is voor sy die verhoog betree, maar nét totdat sy op die verhoog is. Vir haar is ALLES van teater lekker.
“Elke oomblik! Dis ’n ongelooflike gevoel om stories lewendig te maak en mense op ’n emosionele manier te raak – of dit nou is om te lag of om te huil. Dis daardie konneksie met die gehoor wat vir my die heel lekkerste is.”
Wat is Juffrou se raad vir iemand wat ook eendag in ’n toneelstuk wil speel?
Moenie toelaat dat vrees jou drome stilmaak nie. Almal begin êrens, en dit is normaal om onseker te voel. Wat belangrik is, is om jouself die kans te gee om te groei. Jy moet kan glo in jou vermoë om te leer en ontwikkel. Dis nie perfeksie wat tel nie, maar passie en deursettingsvermoë.
Het juffrou op skool drama geneem/waar het juffrou se liefde vir drama begin?
Ek het Tienertoneel gedoen toe ek in graad 10 en 11 was, maar ek het al lank voor dit geweet dat drama is wat ek wil studeer. Ek wou nog altyd mense inspireer, my stories vertel – maar op ’n kreatiewe manier. Toneel gee my daardie geleentheid om ander te raak, hulle te laat dink, en iets mooi agter te laat.
Willemien Willemien en Meraaitjie en Willie Wragtig die troeteldrakie is op die verhoog by die Vrystaatse Kunstefees te sien. Grootmense en kinders welkom!
Fotograaf: Leopold Frechow
0 Comments