My Sarie Marais is so ver van my hart,
Maar ek hoop om haar weer te sien.
Sy het in die wyk van die Mooirivier gewoon,
Nog voor die oorlog het begin.
Sarie Marais se stem fluister al eeue lank deur die asem van ons mense. Sy’s meer as ’n lied; sy’s ’n herinnering, ’n anker, ’n stuk identiteit wat diep in die hart van Afrikaans lê. Opnuut kry sy nuwe asem, 100 jaar later, wanneer jy haar naam hoor in Jo Black se nuwe treffer: Haar naam is Afrikaans. Nogstalgie gemeng met sy growwe stem en rou gevoel, besef ’n mens opeens weer: Afrikaans is nie net ’n taal nie – dis ’n gevoel, dis in jou bloed.
Afrikaans is al meer as ’n eeu oud. Gebore uit ’n mengelmoes van tale – Nederlands, Maleis, Khoi, Portugees en selfs Frans – dit is ’n taal wat sy mense leer om te voel, te droom en te bid. Dit is die taal waarin oumas stories vertel en waarin kinders hul eerste “Ek is lief vir jou” waag.
Jo Black se weergawe van “Haar naam is Afrikaans” is nie net ’n reis terug in tyd nie – dit is ’n moderne liefdesbrief aan ’n taal wat deur soveel generasies gevorm is. Sy stem is die bewys dat Afrikaans steeds leef, groei en saampraat met die ritmes van vandag. Dis nie vasgevang in die verlede nie – dis veelsydig, jonk van gees, en vol karakter.
Afrikaans is die taal van windpompe wat sing in die Karoo, boere wat hul land met liefde en geloof ploeg, die geur van varsgebakte brood in die plaaskombuis, die geheime eerste soen agter die skoolsaal, van hartseer briewe tot vrolike bruilofte, waar drome begin en waar stories om kampvure gebore word met ‘n stukkie erfenis in elke hartklop. Afrikaans is die klank van ’n siel wat sy plek in die wêreld geanker het – ‘n taal deurweef met herrinneringe en hoop wat huis toe verlang.
Soos Jo Black dit eer in sy musiek, eer ons dit in ons alledaagse woorde. Wanneer ons “goeiemôre” sê of iemand groet met “lekker slaap”, dra ons daardie 100 jaar van liefde, stryd en trots met ons saam.
Sarie Marais sal dalk nooit weet hoe groot haar invloed werklik is nie. Maar haar naam, haar melodie, haar taal – dis wat ons lippe leer, en ons harte nooit sal vergeet nie.
O bring my terug na die ou Transvaal,
Daar waar my Sarie woon,
Daar onder in die mielieland by die groen doringboom daar woon my Sarie Marais
(Deur Melani Slabbert, Gr 11-leerder van Hoërskool Jim Fouché – Wenner van die Classic Clash -Skryfkompitisie)
0 Comments