Toe die eerste water by die wal van die Gariepdam begin oorborrel, het iets in my wakker geword. Mense het gestaar, kameras het geklik, en in daardie oomblik het almal geweet: Hier gebeur iets groter as net die oorloop van water. Dit was ’n vloei van potensiaal, van krag wat nie meer teruggehou kon word nie.
En soos die dam, is elke leerder in ’n skool ook vol van iets wat wag om vrygelaat te word – idees, drome, vrae, stories en visies wat nie langer net ink op papier kan bly nie.
In ’n wêreld waar baie tevrede is om net “Klaas” te wees – passief, vol opdragte maar sonder vuur – vra ons: Wie is bereid om “Baas” te wees oor hul eie denke, hul eie stem en hul eie impak? Die Gariep kies nie wanneer dit moet oorloop nie – dit gebeur natuurlik wanneer daar te veel is om binne te hou. So behoort dit ook in ons skool te wees. ’n Skoolgemeenskap wat begin oorloop van energie, betrokkenheid en inisiatief, word iets wat nie net ’n plek van leer is nie, maar ’n beweging van betekenis!
Maar pasop vir die “slange in die gras” – luiheid, fopnuus, groepsdruk, vrees vir mislukking. Hulle lê stil, wagtend, gereed om jou stroom te verstil nog voor dit begin. Om regtig te vloei soos die Gariep, moet jy kies: hand aan die ploeg slaan, of hande moedeloos in die lug staan?
In ’n skool waar leerlinge mekaar motiveer, waar diversiteit nie net verdra word nie, maar gevier word, waar tyd in kultuur, sport en akademie gevul is met passie en nie net plig nie – dáár ontstaan iets uniek. Soos die Gariepdam wat die landskap rondom hom verander, het leerders die mag om die kultuur van hul skoolgemeenskap te hervorm.
So, sit nie langer stil en wag vir ander om te beweeg nie. Laat jou idees oorloop. Laat jou stem die wal breek. Laat jou dade ’n rivier word wat ander meevoer in hoop en groei. Want wanneer die Gariep oorloop, sien ons nie net water nie – ons sien krág. En wanneer ‘n leerder oorloop, sien ons die toekoms …
0 Comments