Wat het Leon Schuster, Brendan Peyper en nou ook – Chrizaan Raath – gemeen?
Hulle is almal bekende gesigte in die vermaakbedryf, en almal was in JF! Ja nee, ons het geen tekort aan uitvoerprodukte nie.
Indien Chrizaan Raath dalk nog nie ’n klokkie lui nie, het jy seker nog nie Reënboogrant gekyk nie. Sy speel die rol van Ans, en is deesdae ’n gereelde gesig op die kassie.
Chrizaan Raath was in 2021 onderhoofmeise hier by Jim Fouché. Sy het nie drama as vak geneem nie, maar ’n liefde vir die Dramatiese Kunste gehad. Ten spyte daarvan dat sy nie Drama as vak gehad het nie, was sy gereeld op die verhoog te sien in haar deelname aan verskeie toneelstukke en musiekblyspele. (Ek het ’n voëltjie hoor fluit dat sy ’n goue stem het.)
Ek het vir Chrizaan ‘n paar vrae gevra:
In 2018 was jy die hoofkarakter in die JF-musiekblyspel, Aspoesterjie. Het jy toe al besef dat jy ’n aktrise wil wees?
“Daai produksie het vir seker die saadjie geplant. Ek wou nog altyd act, en na die musiekblyspel het drama ‘n baie groot rol in my lewe gespeel, maar ek was nog steeds nie seker wat ek wou gaan swot nie. Ek wou my opsies oophou, en in matriek het ek vir so baie goed by verskillende universiteite aansoek gedoen.”
Hoe het dit gevoel toe jy gehoor het dat jy die rol van Ans du Preez in Reënboogrant gekry het?
“Dit was een van die coolste oomblikke in my lewe. Ek het gedurende die foonoproep op en af in my kamer gespring – ek was so opgewonde – en in dieselfde asem kon ek nie glo dat ek actually die rol gekry het nie. Ek was so bang dat hulle my gaan terugbel en sê dat hulle ‘n fout gemaak het. Ek het eers begin ontspan toe ek die kontrak geteken het.”
Was dit moeilik om die karakter te vertolk?
“Daar was definitief aspekte van haar wat vir my moeilik was om te vertolk. Ek self kan ook relate met Ans, en dit was partykeer moeilik om haar te vertolk, juis omdat ek gevoel het dis dele van myself wat ek met die wêreld deel.”
Het jy enige lesse uit jou ervaring geleer?
“Net om op stel te wees, het my so baie geleer van die industrie. Maar werk aside.
Die belangrikste ding wat ek geleer het, was om op die Here en sy tyd te vertrou. Alles gebeur vir ‘n rede.”
Was jy al spyt dat jy jou mediese studies gestaak het, of is jy tevrede met waar jy op die oomblik is?
Ek is nie vir ‘n oomblik spyt dat ek my studies gestaak het nie. Ek is presies waar ek wil wees. Ek weet ook dat ek is waar ek nou is, omdat ek medies gaan swot het. So ek is ook nie spyt dat ek medies gaan swot het nie. As ek dit nooit begin het nie, sou ek altyd gewonder het: “Wat as….” Ek het ook so baie van myself geleer in daai jaar.”
Verlang jy terug na jou JF-skooldae? Watter boodskap het jy vir leerders wat ook ‘n drama-rigting wil najaag?
“Ek verlang definitief, ja. JF, sy onderwysers, en die vriende wat ek daar gemaak het, het so ’n groot impak op my lewe gehad.
Aan almal wat in die drama-rigting wil gaan: Moenie toelaat dat ander jou drome van jou steel nie. Dit is ’n moeilike industrie om in te wees, maar as jy regtig met jou hele hart weet dat dit is wat jy wil doen, GO FOR IT. Weet ook dit is oukei om nie seker te wees oor die toekoms nie. Vertrou op die Here en sy doel vir jou. Alles sal gebeur soos dit moet.”
Daar het jy dit. Gaan vir jou drome! En indien jy nog nie Reënboogrant gekyk het, maak ’n plan om hierdie reeks te sien oor tieners en hulle uitdagings. Daar is vir elke tiener ’n karakter met wie hy/sy sal kan identifiseer.



0 Comments