Toe ek die naam van die toneelstuk hoor “Wanneer die Wind Draai” het ek gedink ek moet dadelik op my weer-toep gaan kyk of daar dalk ‘n koue front op pad is. Maar moenie stres nie, hierdie het niks met Bloemfontein se ysige oggende in ‘n eksamenlokaal te doen nie. Hierdie wind waai op ‘n baie ander manier… een wat jou hart laat bons en jou ore laat rooi trek.
Dis een van Jim Fouché se twee tienertoneel-produksies, en ek het die voorreg gehad om ’n bietjie in die agtergrond te gaan krap. En glo my, ek het stories uit die akteurs (Dian van Wyk en Kaylee Coetzee) uitgetrek soos koue kougom uit ‘n mat.
Om hulle dinamiek op te som: Hulle is soos grondboontjiebotter en romerige tuna; albei lekker op hul eie manier, maar niemand gooi dit op dieselfde toebroodjie nie. Ek het gedink ek en my sussie is verskillend, maar hierdie twee vat die koek.
Kaylee Coetzee (Gr.12) speel Emma, ’n kreatiewe, avontuurlustige plaasmeisie met meer drome as ’n graad 8 se Pinterest-bord. Sy is vasbeslote om haar lewe groter te verf as die grense van haar plaasdorp en jaag haar liefde vir kuns na soos ’n los kat agter ’n muis.
Dian van Wyk (Gr.12) neem die rol van Christo aan, ‘n stil, teruggetrokke ou met meer emosionele bagasie as ’n eerste jaar op universiteit. Dian sê hy en Christo is so verskillend soos Crocs en stilettos, maar danksy “metode-toneelspel” het hy stadig maar seker in die karakter se kop begin klim – ’n scary plek, maar iemand moes dit doen.
En dan… draai die wind. Maar nie na ‘n storm of donderweer nie, nee, na iets veel gevaarliker: TIENERLIEFDE!
Ja, daardie ding wat jou laat twyfel of jy op wolke sweef of ‘n sinusaanval het. Beide Dian en Kaylee is in die regte lewe in verhoudings, maar moes op die verhoog liefde optower tussen karakters wat mekaar nie altyd verstaan nie, soos enige goeie tienerromanse behoort te doen.
Ek weet nie van jou nie, maar ek sou nie maande lank met iemand oogkontak kon maak en voorgee ek’s verlief sonder om self ‘n crush te ontwikkel nie. Dis seker maar hoekom ek die een is wat skryf, en hulle diegene is wat op die verhoog flikflooi.
Die twee het gesê hulle moes mekaar regtig leer ken en vertrou om dié toneel geloofwaardig te maak. Dis soos ‘n speel-afspraak, maar met emosionele bagasie, ligte, gehoorlede en geen kans om terug te krabbel nie. No pressure.
En ja, daar was ongemaklike oomblikke – veral in die begin – maar jare se kollig-ervaring (en dalk ‘n bietjie sweet talk lesse van Juffrou Stella, die regisseur met die lekkerste lag in die skool) het gehelp om daardie “chemie” geloofwaardig te maak.
Nou kyk, ek is nie ‘n wetenskaplike nie, maar toe hulle begin praat van chemie, het ek gedink hulle bedoel daai klas waar jy met molle werk, jy weet, die goed wat in die grond rondkruip. En avokado se getal of iets… want wie hou nie van ‘n avokado op suurdeegbrood nie? Maar nee, hierdie chemie is die tipe wat gebeur wanneer twee mense mekaar met hul oë begin verstaan; sonder ’n periodieke tabel in sig.
Dian het hom selfs so in ‘n toneel ingeleef dat hy letterlik geval het terwyl hy sy jeans probeer aantrek het agter die verhoog. En nee, moenie bekommerd wees nie, daar’s geen wardrobe malfunctions op die verhoog beplan nie. Net emosionele klere wat heel moontlik afgeruk gaan word.
Die boodskap van die toneel is een wat jou gaan bybly, of jy nou in ’n verhouding is, of ’n eensame soldaat op die slagveld van liefde.
Die toneel herinner ons dat liefde nie altyd genoeg is nie, en terselfdertyd dat ons drome geldig is, al sê die wêreld iets anders. Interessant genoeg het die twee akteurs verskillende idees gehad oor wat die boodskap van die stuk is. En dis juis wat dit so mooi maak, die feit dat ons almal iets anders sien wanneer die wind draai.
So bring jou kêrel, bring jou vriendin, bring jou ouma of bring net jouself (plus tissues) en kom kyk hierdie toneelstuk wat jou hart gaan warm maak, al is dit ysig buite.
0 Comments