JF OESTER

VAN SKOOLKLAS TOT WÊRELDKLAS

Jul 23, 2025

Berig Deur Jaco Deysel

VAN SKOOLKLAS TOT WÊRELDKLAS
Conrad dra meer as net gewigte – hy dra hoop

Daar was ’n oomblik van stilte.

Nie een van die honderd mense in die klein ou Benoni-skuur het dit gewaag om asem te haal nie. Voor hulle staan ’n sewentienjarige seun – ’n matrikulant, ’n vasberade glimlag, hande vol kalk en ’n stang swaar van yster. Hy buig. Asem diep in. En lig.

Die stilte bars oop met gejuig. ’n Nuwe wêreldrekord.

Maar die ware gewig wat Conrad van der Zwaard daardie dag opgelig het, was nie net staal nie. Dit was die somtotaal van elke vroeë oggend, elke seer spier, en elke oomblik van twyfel waardeur hy gekies het om te druk. Dit was die onmeetbare massa van deursettingsvermoë.

“Ek het in graad 5 begin oefen,” vertel Conrad. “Aanvanklik net om beter te raak in gewigstoot en diskus.” Maar wat begin het as bystand tot atletiek, het gou-gou ’n vlam van passie laat ontvlam. Die gewigte het swaarder geword en sy drome gróter.

Danksy Hoërskool Jim Fouché se eie afrigter, meneer Neil Murphy, het Conrad vinnig by Bloem Barbelle Club aangesluit, waar sy regte reis begin het.

“Ek het gou agtergekom: ek is nie net liéf vir krag nie – ek is gebore daarvoor.”
Reeds ná sy allereerste kompetisie, het Conrad vier Suid-Afrikaanse rekords gebreek. Daardie dag het hy nie net medaljes verower nie, maar hy het iets veel kosbaarders gevind: geloof in wat moontlik is.

“Van daardie oomblik af het ek geweet: ek gaan vir iets groter.”

En toe AWPC Nasionale Kampioenskappe aanbreek, het Conrad nie teleurgestel nie.

Drie wêreldrekords. Een nasionale rekord.

Die gewigte?
• Squat: 230 kg
• Benchpress: 130 kg
• Deadlift: 230 kg

Maar dis nie dié syfers wat sy naam in geheue gaan brand nie, maar daardie oomblikke tussen die asemhalings. En toe die 17-jarige JF-matrikulant drie wêreldrekords breek, het niemand nét spiere gesien nie. Hulle het vasberadenheid, karakter en geloof in aksie gesien.

“Daardie stilte net voor ek lig… en dan die oomblik daarna. Dis onbeskryflik. Ek was oorweldig met trots en dankbaarheid.”
Hoewel kragoptel dikwels as ’n alleenmansport beskou word, weet Conrad dat geen kampioen alleen staan nie. Sy span staan bankvas agter hom.

“My afrigters, Guy Conry en Bernice van der Westhuizen, en die ander klubatlete, is ongelooflik. Hulle help my en glo in my, selfs wanneer ek begin twyfel. En my ouers? Hulle is altyd daar. Elke kompetisie. Elke laat aand.”
Dit is duidelik dat hierdie nie net ’n sportprestasie is nie. Dit is ’n gemeenskap se triomf.
Wat beteken krag vir iemand wat wêreldrekords breek?

“Krag is karakter,” sê Conrad. “Dis die vermoë om weer op te staan na ’n mislukking. Om op te daag, al voel jy nie lus nie. Om nederig te bly wanneer jy wen en te leer wanneer jy verloor.”

Dít is die soort krag wat nie op ‘n skaal gemeet kan word nie. Dit word in die hart geweeg.
Wat wag vorentoe? Conrad se volgende uitdaging lê oorsee: die Wêreldkampioenskappe in die VSA hierdie Augustus. En ja, nóg rekords.

“Ek wil wêreldkampioen word. Maar ek wil ook myself oortref.”

Na matriek droom hy van ‘n loopbaan in fisioterapie en van ’n lang, verrykende kragoptel-loopbaan.
Wat sou die jonger Conrad sê as hy hom nou kon sien? “Hy sou stil wees … en dan glimlag. En dan sê: ‘Hou aan. Ons is nog nie klaar nie.’”

Meer as staal. Meer as ’n rekord.

Conrad van der Zwaard het dalk yster opgelig, maar dit is sy storie wat swaar dra. ’n Storie van drome, opoffering, karakter en hoop. ’n Jong man wat bewys het: Jy hoef nie wêreldberoemd te wees om ’n wêreldrekord te breek nie. Jy het net ’n passie nodig en die moed om op te daag – elke dag.

Deur Jaco Deysel

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester KAF Oct 14, 2025

Die beste van alle tye…regtig!

Die amptelike KKNK webwerf beskryf die blitsteater toneelstuk “Beste van alle tye” as volg:

“’n Musikale sketskomedie met ’n kinkel. Moenie tevrede wees met die alledaagse wanneer jy kan uitblink nie. Twintig minute van die beste . . . nie net van nou nie, maar van alle tye!”

Oester KAF Oct 14, 2025

Lus ‘n bietjie Ont-

Die amptelike KKNK webwerf beskryf die toneelstuk “Ont-” as volg:

“Ont- is ’n solostuk wat die grootwordproses van ’n jong Afrikaner ontleed."

Oester KAF Oct 14, 2025

Werklike KUNS

Die KKNK webwerf beskryf die toneel “KUNS” as volg:

“Buiten dat smaak verskil, is daar ook al menigte argumente gevoer oor die konsep van wat kuns is, wat nog te sê wat goeie kuns is."