Tik. Klik. Klaswerk klaar.
Hy is nie meneer Fourie of mevrou Ferreira nie. Hy het nie ’n handskrif of ‘n humeur nie. Hy géé nie huiswerk nie – hy dóén dit. Sy lessenaar is ’n skerm. Sy brein? ’n Netwerk van miljarde datastukke. Sy stem klink soos ’n koel radio-omroeper. En hy weet alles. Ja, álles.
Ek stel voor: Jim Fouché se nuwe “onderwyser”. Nie van vlees en bloed nie, maar van kode. Nie ’n opvoeder nie, ’n algoritme.
WELKOM BY DIE KI-ERA.
Dis nie meer ’n futuristiese droom of ’n wetenskapsfiksiefliek nie – dis nou. In JF se gange word opstelle geskryf sonder ’n pen in die hand. Wiskundevrae word opgelos sonder ’n enkele som. Vraestelle word voorberei sonder leer. Sonder dink.
Kunsmatige intelligensie (KI) het nie stilletjies ingesluip nie, nee, dit het ingebréék. En ons het die deur oopgelos. ChatGPT, Grammarly, Wolfram Alpha… word die nuwe topstudente. Slimmer. Vinniger. Nooit moeg nie.
Maar is KI bloot ’n nuttige hulpmiddel? Of ’n gemaklike vlugroete weg van ware leer?
Sommige sê dit is rewolusionêr. Ander sien ’n generasie wat vergeet het hoe om self te dink. Jy tik. Woepswaps, antwoord verskyn. Netjies, foutloos, indrukwekkend. Maar het jy werklik iets geleer? Of het jy net die illusie van kennis gekoop?
Ek het gaan luister in die gange van Jim Fouché. Wat sê ons leerders?
“Ek gebruik ChatGPT vir elke opstel. Nie omdat ek nie kan skryf nie, maar omdat ek nie tyd het om te sukkel nie.”
– Graad 11-leerling
“Ek voel soms soos ’n bedrieër … maar ek kry punte.”
– Graad 12-leerling
Waar sommige leerders uit skuldgevoel kies om nie KI vir skooltake te gebruik nie, word dit ‘n kruk vir ander wat nie twee keer dink voor hulle dié alle-wetende onderwyser raadpleeg nie. Wanneer ek ’n graad 12-leerder vra of dit regverdig is, sê sy eenvoudig:
“Dis net nog ’n bron. Soos ’n handboek. Net op ’n digitale muur.”
Maar dan is daar die onderwysers. Party weet (Mevrou Millie). Party vermoed. Maar baie weet nie hóé om teen KI te veg nie, en selfs of hulle moet veg nie.
Ons hoofdogter, Lisa Botha, sê iets wat vashaak:
“JF moet nie noodwendig ‘n beleid teen KI instel nie. Ons moet ophou veg teen onvermydelike verandering. Ons moet KI leer gebruik. Slimmer. Kreatief. As ons aanhou terughou, gaan JF agter word. Daarom moet ons dit omkeer en eerder as ‘n wapen gebruik om JF en sy leerders vorentoe te dryf.”
So wat nou? Gaan KI ons onderrig verbeter… of uitwis?
Die dilemma is skerp. As leerders géén KI gebruik nie, raak hulle agter op ’n wêreld wat vooruit storm. Maar as hulle KI vir alles gebruik, verloor hulle hulleself.
Aanvanklik het ons gesê, “Gebruik ChatGPT net vir inspirasie. Gebruik Grammarly om jou grammatika te verbeter.” Nou doen dit ons werk. Ons dink nie meer nie. Ons tik net.
En toe gebeur dit: Die masjien weet méér as die onderwyser. Skielik vra kinders: “Waarom moet ek luister? Die masjien is vinniger. Beter.”
Hierdie nuwe onderwyser is nooit moeg nie. Hy raas nie. Hy vergeet nie jou naam nie. Hy antwoord onmiddellik. Hy is altyd daar. Maar …
Hy verstaan jou nie. Hy voel nie vir jou nie. Hy het nie daardie meneer–De Wet-humor nie. Hy lag nie vir jou grap nie. Hy gee nie om as jy sleg voel of ’n slegte dag het nie. Hy sien jou nie.
Jy is net ’n opdraglyn.
Die gevaar is nie dat KI slimmer is nie – die gevaar is dat dit jou onmerkbaar vervang. Jy sien nie hoe dit jou denke vorm nie. Jy sien nie hoe jy verander van ’n leerder in ’n gebruiker nie. Jy kry punte. Jy slaag. Jy voel slim. Maar jy het niks ontdek nie. Jy het niks geleer nie.
Jim Fouché se nuwe onderwyser is dalk ’n masjien…
Maar die vraag is: Hoe lank nog voor ons ook masjiene word?
Deur Jaco Deysel
0 Comments