JF OESTER

Wanneer die Gariep oorloop – ’n Les in potensiaal

May 28, 2025

Berig Deur Abigail Fivaz

Toe die eerste water by die wal van die Gariepdam begin oorborrel, het iets in my wakker geword. Mense het gestaar, kameras het geklik, en in daardie oomblik het almal geweet: Hier gebeur iets groter as net die oorloop van water. Dit was ’n vloei van potensiaal, van krag wat nie meer teruggehou kon word nie.

En soos die dam, is elke leerder in ’n skool ook vol van iets wat wag om vrygelaat te word – idees, drome, vrae, stories en visies wat nie langer net ink op papier kan bly nie.

In ’n wêreld waar baie tevrede is om net “Klaas” te wees – passief, vol opdragte maar sonder vuur – vra ons: Wie is bereid om “Baas” te wees oor hul eie denke, hul eie stem en hul eie impak? Die Gariep kies nie wanneer dit moet oorloop nie – dit gebeur natuurlik wanneer daar te veel is om binne te hou. So behoort dit ook in ons skool te wees. ’n Skoolgemeenskap wat begin oorloop van energie, betrokkenheid en inisiatief, word iets wat nie net ’n plek van leer is nie, maar ’n beweging van betekenis!

Maar pasop vir die “slange in die gras” – luiheid, fopnuus, groepsdruk, vrees vir mislukking. Hulle lê stil, wagtend, gereed om jou stroom te verstil nog voor dit begin. Om regtig te vloei soos die Gariep, moet jy kies: hand aan die ploeg slaan, of hande moedeloos in die lug staan?

In ’n skool waar leerlinge mekaar motiveer, waar diversiteit nie net verdra word nie, maar gevier word, waar tyd in kultuur, sport en akademie gevul is met passie en nie net plig nie – dáár ontstaan iets uniek. Soos die Gariepdam wat die landskap rondom hom verander, het leerders die mag om die kultuur van hul skoolgemeenskap te hervorm.

So, sit nie langer stil en wag vir ander om te beweeg nie. Laat jou idees oorloop. Laat jou stem die wal breek. Laat jou dade ’n rivier word wat ander meevoer in hoop en groei. Want wanneer die Gariep oorloop, sien ons nie net water nie – ons sien krág. En wanneer ‘n leerder oorloop, sien ons die toekoms …

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester KAF Oct 14, 2025

Die beste van alle tye…regtig!

Die amptelike KKNK webwerf beskryf die blitsteater toneelstuk “Beste van alle tye” as volg:

“’n Musikale sketskomedie met ’n kinkel. Moenie tevrede wees met die alledaagse wanneer jy kan uitblink nie. Twintig minute van die beste . . . nie net van nou nie, maar van alle tye!”

Oester KAF Oct 14, 2025

Lus ‘n bietjie Ont-

Die amptelike KKNK webwerf beskryf die toneelstuk “Ont-” as volg:

“Ont- is ’n solostuk wat die grootwordproses van ’n jong Afrikaner ontleed."

Oester KAF Oct 14, 2025

Werklike KUNS

Die KKNK webwerf beskryf die toneel “KUNS” as volg:

“Buiten dat smaak verskil, is daar ook al menigte argumente gevoer oor die konsep van wat kuns is, wat nog te sê wat goeie kuns is."