JF OESTER

Meer as net blomme en ontbyt in die bed

May 11, 2025

Berig Deur Lisa Botha

Yskoue, halfgaar eiers. ’n Koue koppie koffie wat nie volgens smaak gemaak is nie. ’n Berg skottelgoed en ’n vuil kombuis wat lê en wag. Dis die realiteit van die meeste ma’s op Moedersdag. Want selfs op die dag wat veronderstel is om háár te vier, staan sy op, glimlag sag, en maak alles weer reg. Nie omdat sy moet nie, maar omdat sy liefhet.

’n Ma is nie net ’n vrou wat geboorte gegee het nie. Sy is ’n anker. ’n Siel wat haar eie stukkies gee sodat haar kinders heel kan wees. Sy is die een wat haar laaste bietjie sjokolade wegsteek vir jou – en dit later self vir jou bring. Sy is die hand op jou voorkop wanneer jy siek is. Die hart wat saam met jou breek oor die wêreld se onreg. Sy is jou eerste en hardste applous, die stil trane van trots, die een wat altyd in jou glo – al glo jy self nie meer nie.

Dis ’n ma wat om middernag wakker word vir laasteminuut-skoolprojekte en nagmerries. Wat heeldag werk, en dan steeds die grootste stukkie hoender vir jou los. Iemand wat met ’n moeë lyf stories lees met stemmetjies, net omdat jy vra; sy wat saggies jou trane van jou wang af streel, selfs al is jy al lankal groot.

Sy gee sonder om terug te vra. Sy dra, sonder dat iemand sien hoe swaar.

My ma… Sy is die sterkste mens wat ek ken. Nie omdat sy nooit huil nie, maar omdat sy altyd opstaan. Sy’t my geleer dat die wêreld jou mag stukkend maak, maar jy staan op, regop, en glimlag nog steeds. Sy’t my gewys dat ware krag nie in skree of stoot lê nie, maar in sag wees – teen alle weerstand. Sy is my leermeester, my rolmodel… maar bo alles: my heel beste vriendin.

Ek kyk na haar en dink: As ek net die helfte kan wees van wat sy is… Dan sal ek reeds groot wees. En ek weet, elke dogter, elke seun – al is ons jonk of oud – dra daardie stille wens in ons harte: om net ’n bietjie meer soos Mamma te wees.

So op hierdie Moedersdag, mag ons nie net ’n geskenk gee nie. Mag ons stilstaan. Mag ons kyk na ons ma’s en alles wat hulle vir ons doen en opoffer sonder om twee keer daaroor te dink. Want jou ma is die een persoon op hierdie aarde wat jou wil sien beter doen, meer bereik en verder gaan as sy.

Dankie, Mamma. Wat n eer om ‘n ma soos jy te mag hê. 

 

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester KAF Oct 14, 2025

Die beste van alle tye…regtig!

Die amptelike KKNK webwerf beskryf die blitsteater toneelstuk “Beste van alle tye” as volg:

“’n Musikale sketskomedie met ’n kinkel. Moenie tevrede wees met die alledaagse wanneer jy kan uitblink nie. Twintig minute van die beste . . . nie net van nou nie, maar van alle tye!”

Oester KAF Oct 14, 2025

Lus ‘n bietjie Ont-

Die amptelike KKNK webwerf beskryf die toneelstuk “Ont-” as volg:

“Ont- is ’n solostuk wat die grootwordproses van ’n jong Afrikaner ontleed."

Oester KAF Oct 14, 2025

Werklike KUNS

Die KKNK webwerf beskryf die toneel “KUNS” as volg:

“Buiten dat smaak verskil, is daar ook al menigte argumente gevoer oor die konsep van wat kuns is, wat nog te sê wat goeie kuns is."