Jim Fouché se tennisspanne het van 7-8 Februarie met ‘n brandende gees deelgeneem aan die Van Niekerk-en-Koen Tennistoernooi te Burgersdorp. Dit was nie net ‘n toernooi nie, maar ’n slagveld van talent, uithouvermoë en suiwer JF-mojo!
Ons O/15-seunspan het met hul rakette geskitter en Burgersdorp 2 met ’n skitterende 10/4 afgeransel. Ná ’n knou teen De Aar se O/19-span (3/11), het hulle soos ware kampioene teruggeveg en Cradock (8/6) en Burgersdorp 1 (8/6) stof in die oë geskop. Toe kom die grootste uitdaging: Niks anders as ’n JF teen JF-stryd nie! Die O/15’s moes egter die knie buig teen ons magtige O/19-span (1/13), maar hulle het hulself reggeruk en ’n oorwinning teen Union (9/5) behaal. Middelburg was ‘n taai opponent, maar die jong manne het hul moed getoon, al het hulle 2/12 verloor.
Die O/19 gemengde span het met ’n blitskrag begin en Burgersdorp (37/19) en Burgersdorp 2 (13/1) met styl afgerond. Daarna het hulle Cradock (35/21) gesystap en hul eie O/15-span ’n tennisklas gegee (13/1).
Maar toe kom die kragtoetse teen Middelburg en De Aar – en wát ’n stryd! Dit was hou vir hou ’n wedstryd van presisie en senuwees van staal! Al was die uitslae skerp (26/30 teen beide spanne), het hulle steeds ‘n puik 3de plek ingeneem. ’n Fantastiese prestasie!
Aan al ons spelers: Julle het elke punt, elke sweetdruppel, en elke hou op die baan die moeite werd gemaak. JF-Tennis is hier om te bly – sien julle by die volgende toernooi, waar ons nóg groter gaan wen!
0 Comments