Óf jy nou ’n gr. 11-kelner, onderwyser, toeskouer of matriekleerder was, ek dink ons almal kan saamstem dat die matriekafskeid van 2024 werklik “The Greatest Show” was!
Op 27 September 2024, het die JF-matriekafskeid plaasgevind. Die matrikulante het met baie opwinding in spogmotors en met helder glimlagte opgedaag; dit is immers ’n gebeurtenis wat elke matrikulant laat voel soos ’n kind wat ’n roomys op ’n vuurwarm dag kry. Die meisies was omtrént opgetooi in hul beeldskone rokke en perfekte grimering, en die sjarmante manne het nét so spoggerig gelyk in hul pakke. Ons almal se asems was behoorlik weggeslaan! (Ons meisies moes hard probeer om nie te flankeer nie.)
Met hul aankoms by Leopards and Lace, is hulle deur die gr. 11-leerders verwelkom wat volgens die “Greatest Showman”-tema aangetrek het en op hierdie wyse sommer deel geword het van die dekor. Dit was omtrent ’n gesig om te aanskou. Die matriekleerders en hul metgeselle is ook persoonlik deur ons skoolhoof, mnr. Henri Wilken, met die hand gegroet.
Die dansvloer het geduldig gewag vir daardie entoesiastiese danspassies, terwyl die matriekleerders hul peuselhappies geëet het, geselsies gemaak het en ’n KLOMP foto’s geneem het. Dit was net flikkerende kamera’s orals – wat natuurlik reg is – ’n mens moet tog herinneringe hê om op terug te kyk!
Daar was definitief ’n paar trane gestort toe juffrou Ilse Fourie ons harte geraak het soos net sy kan toe sy “Never Enough” uit die klankbaan van The Greatest Showman gesing het. Maar natuurlik kon die matriekleerders nie wag om die mondwaterende buffet-ete te gaan inskep nie, en ek neem hulle nie kwalik nie. As jy honger is, is jy honger. Die kelners was ook hard aan die werk, besig om mense se glimlagte breed te hou en die sap op die tafels vol te hou. En sjoe, die matrieks was omtrent dors dáái aand!
Toe dié DJ die eerste liedjie oor die luidspreker begin blaas, was dit verby met ons ore. Die leerders het nie geloop nie, maar na die dansvloer gehardloop. Die romantiese, liefdevolle vasdansies het ons enkellopende meises sommer lus gemaak vir ’n kêrel. Gelukkig was daar geen gebrek aan energieke nommertjies nie, en alle akademiese frustrasies is op die dansbans uitgespring. (Dit was soos ’n domino-effek: as die een hop, hop die ander een). Die atmosfeer was werklik elektries daardie Vrydagaand!
Máár alle sprokiesverhale kom ongelukkig tot ’n einde. Ná al die opwinding van mooi karre, die pragtigste rokke en ’n aand vol pret, bly daar in werklikheid net afskeid oor.
Aan die klas van 2024: Dankie en voorspoed!
Liechen Willemse
0 Comments