JF OESTER

Wie kraai vanjaar koning by die Classic Clash?

May 13, 2024

Berig Deur Elseri Venter

Op 6 Mei het die groot week aangebreek. Daar was ’n elektriese atmosfeer onder die JF’ers soos hulle in groen by die skool opgedaag het. Die VRL het ook gesorg dat elkeen met ’n groen of oranje ballon op hulle skooltasse pronk.

Dinsdag het almal lekker gemaklik rondgeparadeer in hulle onderskeie weergawe van “socks and sandals” en sommige van die onnies het ook ingespring en deelgeneem aan dié inisiatief.

Toe Woensdag aanbreek was dit maar swaar dra al aan die een kant, want niemand het skooltasse skool toe gebring nie! ‘n Matriekleerder moes haar boeke elke periode uit ’n asdrom, wat sy oral saamgesleep het, uitgrawe, en ’n ander seun het sy boeke aan ’n visstok se hoek rondgedra! Daar was ook talle koelerbokse, piekniekmandjies en selfs kussingslope en duvet-oortreksels wat op dié dag hulle rol as skooltasse moes vervul.

Woensdagaand se Talent Clash in Sentraal se skoolsaal het beslis gesorg vir lekker vermaak! Natuurlik was die AKKERS weer ’n gunsteling, maar JF kon vanjaar ’n bietjie by Sentraal spog met die MAKKERS ook! Aan die einde van die aand het JF koning gekraai en beide die eerste en tweede plekke (Die Akkers en Brandon Nel onderskeidelik) ingepalm.

Donderdag was elke JF’er geklee in hulle trots-JF drag terwyl Dominee Jan Venter ‘n baie spesiale Hemelvaartdiens in die saal waargeneem het. Ons kon ook hierdie jaar ‘n besonderse spesiale Hemelvaart beleef aangesien JF en Sentraal hierdie dag saam afgesluit het met ’n Praise and Worship.

Die VRL het moeite gedoen sodat ons Vrydag net weer daaraan herinner is waarom JF so spesiaal is. Na die aflê van ’n eksamenvraestel het die hele skool saam in die saal bymekaargekom om die skool se verjaarsdag te vier! Daar is ook tydens die Big Brag ’n bietjie met die skool se sportspanne gespog, en met Teambo se hulp is daar ook lekker gees gevang ter voorbereiding van die naweek se manewales.

’n Klomp sport- en kultuuraktiwiteite, onder andere die tennis, pool, debat, spelkompetisie, ensovoorts, het al gedurende die week met Sentraal gaan koppe stamp, waar JF in die meeste gevalle met die oorwinning weggestap het. Vrydag is die eerste hokkiewedstryde gespeel waar die eerste dogterspan gelykop gespeel het en die eerstespanseuns gewen het.

Toe die groot dag Saterdag aanbreek, was elkeen reg vir aksie. JF het in groot getalle getrou in hulle skoolklere opgedaag en dit was duidelik dat ons daar was om te WEN! By die netbal het ons skoonskip gemaak en die eerste span het met ‘n telling van 38 – 12 stof in Sentraal se oë geskop.

Met die opbou van die hoofwedstryd het beide JF en Sentraal se pawiljoene gou vol geraak. Al twee skole het lekker gees gevang en het ook kans gekry om hulle optogte te doen. Toe die twee eerste spanne op die veld opdraf, het die realiteit begin inskop en die sing van JF se skoollied het gesorg vir hoendervleisoomblikke op die pawiljoen én op die veld.

Na ’n opwindende 70 minute het Jim Fouché se eerste span met trots die beker gelig!

Nou word daar net in angs en spanning gewag om te hoor wie die algehele wenner van die week se clash was …

JF, dankie dat jy so getrou opgedaag het hierdie week en met trots jou skool op en van die sportveld af teenwoordig het.

Saai om te oes, JF!

Elseri Venter

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester Kultuur May 29, 2025

Dit gaan mal by die Maskerbal!

’n Dinosaurus, ’n lyfwag en ’n prinses wals by ’n saal in … Dit klink dalk soos ’n droë grappie, maar dit is helaas nie, want op Vrydag, 9 Mei 2025, kon jy elke sprokieskarakter uit jou kleintyd op JF se dansvloer aanskou by ons eie maskerbal!

Oester KAF May 28, 2025

BOOTLEGGERS

As jy nog nie gehoor het van die nuwe koffiewinkel “Bootleggers” nie, bly jy sekerlik onder ’n klip.

Oester Kultuur May 27, 2025

Die Classic Clash Lofsangaand

JF en Sentraal sit tydens die Classic Clashes beslis nie langs dieselfde vuur as dit kom by wie die beste skool is, of die beste gees het nie, maar een ding waarmee ons almal kan saamstem, is dat beide skole kinders van God is.