FOTO: Al die finaliste by die Mnr & Mej JF 2024 – A Human
Mnr en Mej JF is beslis nie nét ’n skoonheidskompetisie nie, maar ’n aand van pret, kreatiwiteit en spanwerk! Die deelnemers werk en oefen baie hard vir weke aaneen, terwyl daar agter die skerms ure beplan en gewerskaf word om hierdie aand vir almal baie spesiaal te maak.
Hierdie glansryke “Mardi Gras”-geleentheid het op Woensdag, 24 April 2024, plaasgevind op eie bodem. Die kreatiewe saaldekor het die gaste weggevoer na ’n sprokiesagtige karnaval wat wag om te betower. En was dít nie betowerend nie…
Die aand skop af met die verwelkoming en bekendstelling van die seremoniemeester, oudskolier en Radio Rosestad-omroeper, Benita Jacobs. Benita stel die gesofistikeerde beoordelaars voor en sorg dat hierdie spoggerige geleentheid seepglad verloop, met ’n grappie en ’n staaltjie so tussendeur tot groot vermaak van die gehoor.
Die hoofkarakters van hierdie karnaval, natuurlik die twintig spogfinaliste, het skitterend gelyk in hul asemrowende uitrustings. Hul eie bekendstelling was vir seker een van die hoogtepunte van die aand, om nie eers te praat van die dans-choreografie wat baie roering en opwinding in die gehoor aangevuur het nie.
Alhoewel nie almal gekroon kon word nie, was al twintig finalist in eie reg ’n wenner. Elkeen van hierdie fenomenale deelnemers het tyd en energie ingesit om betrokke te wees by die “Bless a Baby”-gemeenskapsprojek. Ons deelnemers het met trots en baie omgee babaprodukte ingesamel en pakkies opgemaak wat aan behoeftige mammas met pasgebore babas uitgedeel is.
Hierdie aand bereik ’n klimaks met die aankondiging en kroning van die wenners. Senuweeagtig wag die gehoor en die finaliste om te hoor wie loop met die krone weg. Handré Ferreira en Mené Ness word gekroon as tweede prins en prinses, gevolg deur Heinrich Hattingh en Zandria Bastone as eerste prins en prinses, met Ruben Jacobs en Miecke Bezhuidenhout as Mnr en Mej JF 2024!
Dit was omtrent ’n gegons van pret, plesier, lag, huil en omhelsing. Alles sommer deurmekaar van blydskap en ook maar net om uiting te gee aan die aand se stres. Foto’s word geneem, gelukwensings en drukkies word uitgedeel tot alles stelsematig rustiger word. Net so is Mardi Gras ook weer iets van die verlede. Gelukkig het ons baie herinneringe van dié skouspelagtige aand.
Deur Melani Slabbert
0 Comments