JF OESTER

Goeiedag, ek’s graad 8 …

Jan 30, 2024

Berig Deur Elseri Venter

“Ek is uiteindelik in graad agt, ek wag al 14 jaar vir hierdie dag…” weergalm dit sedert die 17de Januarie deur JF se gange.

Ons graad 8’s het al die 16de Januarie skool toe gekom om solank saam met die VRL hulle voete op dié nuwe skoolgronde te vind, en vir die eerste drie dae moes hulle maar hulle trots sluk en hulle middelpaadjie gel sodat hulle as gesoute JF’ers hulle hoërskoolloopbaan kan binnegaan.

Die graad 8-naweek het sommer met ’n hoogtepunt afgeskop toe sowat 260 nuwe graad 8’s Vrydagmiddag die atletiekveld maar klein laat lyk het. Daar is spiese gegooi, ver gespring en vinnig gehol. Natuurlik, soos dit ’n ware JF’er betaam, het ons graadaggies ook gesorg vir lekker gees deur die loop van die middag.

Vrydagaand kon ons sixers lekker met JF se rasies spog toe hulle gees gevang het op die pawiljoen terwyl hulle ouers by die skool opgedaag het vir die ouerbraai. En natuurlik moes ons die aand met ’n lekker sokkie afsluit. En nadat die graad 8’s, (en die VRL) ‘n lekker “toer om die vloer” gevat het, kon hulle met vol harte gaan slaap.

Maar daar was maar min geslaap, want Saterdagoggend om 04:45 het die graad 8’s al deur JF se hekke gestroom, gereed en opgewonde vir die dag se avonture! Die oggend was gevul met ’n paar aangename verrassinkies van die matriekseuns en JFFJ af, en toe die son wakker genoeg was om ons lekker warm te bak buite, het die dag se speletjies afgeskop.

Party speletjies natuurlik bietjie meer aangenaam as ander, maar elke speletjie het op sy eie manier gesorg vir vet pret!

Saterdagaand is die hoogtepunt van die naweek bereik toe die graad 8’s hulle heupe tydens die Sixer-konsert kon skud om vir ons te wys wat in hulle steek. Graad 8 H is gekroon as die wenners van die konsert en Graad 8 F het met die geesbeker weggestap.

Ná Sondagoggend se spesiale kerkdiens in ons skoolsaal kon die graad 8’s darem ’n blaaskans vat om te herlaai vir die week wat voorlê.

Maandagoggend breek toe aan en ons graad 8-saadjies word toe amptelik in JF-land geplant.
Daar was dalk donker kringe onder ’n paar graadaggies se oë, maar steeds het hulle oë gevonkel van opgewondenheid oor die nuwe hoofstuk van hulle lewens wat hulle binnegaan. En die oomblik wat die graad 8’s uiteindelik hulle kleurbaadjies mag aantrek, het gesorg vir hoendervleis-oomblikke wat elke JF’er se bors laat swel het van trots.

Graad 8’s 2024 – mag julle in die volgende 5 jaar werklik SAAI OM TE OES!

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester Kultuur May 29, 2025

Dit gaan mal by die Maskerbal!

’n Dinosaurus, ’n lyfwag en ’n prinses wals by ’n saal in … Dit klink dalk soos ’n droë grappie, maar dit is helaas nie, want op Vrydag, 9 Mei 2025, kon jy elke sprokieskarakter uit jou kleintyd op JF se dansvloer aanskou by ons eie maskerbal!

Oester KAF May 28, 2025

BOOTLEGGERS

As jy nog nie gehoor het van die nuwe koffiewinkel “Bootleggers” nie, bly jy sekerlik onder ’n klip.

Oester Kultuur May 27, 2025

Die Classic Clash Lofsangaand

JF en Sentraal sit tydens die Classic Clashes beslis nie langs dieselfde vuur as dit kom by wie die beste skool is, of die beste gees het nie, maar een ding waarmee ons almal kan saamstem, is dat beide skole kinders van God is.