JF OESTER

Eksamenstres: Die tiener se grootste vyand

Nov 2, 2023

Berig Deur Elseri Venter

Almal van ons ken daardie angswekkende gevoel wanneer jy by die eksamenlokaal instap. Rye en rye skoolbanke staan netjies in die saal uitgepak met vraestelle wat versigtig daarop neergelê is. Jy sit jou foon in die boksie op die verhoog en skielik wil jou hart jou borskas met alle geweld verlaat. Die realiteit tref jou soos ’n spyker in die keel: Jy gaan nou eksamen skryf …

EN. JY. STRES.

Terwyl jy nou hierdie artikel lees, slaan jou binneste dalk bollemakiesie, want jy was onder die indruk dat net jý vir eksamens stres, maar ek kan met sekerheid bevestig dat dit nie net jy is wat so voel nie. Statistieke bevestig eintlik dat 65.1% van mense hierdeur gaan!

Ons almal ken dus daardie gevoel – en dis OUKEI!

Jy hoef gelukkig nie te vrees of bekommerd te wees nie, want hier volg ’n paar praktiese wenke van hoe jy hierdie eksamenstres kan hanteer. (En ook hoe jy jou tjommie wat langs jou sit kan ondersteun as hý/sý so voel.)

Die belangrikste ding wat jy moet onthou wanneer jy iemand wat met angs sukkel, wil ondersteun, is dat jy hulle gevoelens in ag moet neem. Stel hulle gerus dat dit wat hulle voel geldig is. Dis ook belangrik om hulle gerus te stel dat hulle nie ’n las is nie. Soms het iemand net ’n klankbord nodig – LUISTER DAN! Jy hoef nie die beste raad in die wêreld te gee nie, maar wees net daar vir hulle.

Jy kan hulle ook help om rustig te raak direk voor hulle skryf deur oor iets te gesels wat niks te doen het met die toets wat hulle nou gaan skryf nie. Gesels oor vakansieplanne of enige iets wat hulle gedagtes net vir ‘n minuut of twee van die eksamen af sal kry. Dit sal hulle help om rustig te word en om nie onnodig te begin stres nie.

Wanneer jy self eksamenstres ervaar, kan jy dieselfde metodes toepas. Kry jou gedagtes net vir ’n paar minute op ’n ander, rustige plek sodat jy kalm en gefokus by die skryflokaal kan instap. Jy moet dit ook prioritiseer om fisieke oefening in te kry. Gaan stap tussen leersessies om die blok of swem ’n bietjie. Dit verseker dat daar genoeg serotonien afgeskei word, wat óók angstigheid kan bekamp. Dis ook natuurlik belangrik om vroegtydig vir jou vakke te begin leer. Dit sal sorg dat jy jou werk goed ken en dan op die dag wat jy skryf geen rede het om te stres nie – jy ken mos jou werk!

So JF, dis oukei om soms te stres oor eksamens, maar as dit op ’n punt kom wat jy sukkel om te cope – vra vir hulp! Niemand gaan jou as minderwaardig ag as jy uitreik vir ondersteuning nie. Gesels met ‘n vriend of vriendin wat jy vertrou – hulle voel heel moontlik ook soos jy!

Sterkte met julle eksamens, en onthou:

“Success is not final. Failure is not fatal. It is the courage to continue that counts!” (Winston Churchill)

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester Kultuur May 29, 2025

Dit gaan mal by die Maskerbal!

’n Dinosaurus, ’n lyfwag en ’n prinses wals by ’n saal in … Dit klink dalk soos ’n droë grappie, maar dit is helaas nie, want op Vrydag, 9 Mei 2025, kon jy elke sprokieskarakter uit jou kleintyd op JF se dansvloer aanskou by ons eie maskerbal!

Oester KAF May 28, 2025

BOOTLEGGERS

As jy nog nie gehoor het van die nuwe koffiewinkel “Bootleggers” nie, bly jy sekerlik onder ’n klip.

Oester Kultuur May 27, 2025

Die Classic Clash Lofsangaand

JF en Sentraal sit tydens die Classic Clashes beslis nie langs dieselfde vuur as dit kom by wie die beste skool is, of die beste gees het nie, maar een ding waarmee ons almal kan saamstem, is dat beide skole kinders van God is.