JF OESTER

Leer jou leier ken: Christiaan Wilken

Jul 21, 2023

Berig Deur JF Oester
Loani en Christiaan by Radio Rosestad

Christiaan Wilken, hoofseun, is op 9 Maart 2005 in Mediclinic Bloemfontein gebore. Op die ouderdom van 3 is hy na Duimpie Pre-primêr. Hy kan sy eerste klas nog goed onthou! Eers die skilpadjie-klas en toe die Hasie-klas. Hy was tot in graad 4 in Bloemfontein Laerskool en in graad 5 het hy sy loopbaan voortgesit by Jim Fouché Primêr, waar hy ook in graad 7 as hoofseun aangewys is. In 2019 het hy by Hoërskool Jim Fouché aangesluit. Christiaan se dag begin gewoonlik om 05:00 soggens en eindig omtrent om 22:00 nadat hy huiswerk gedoen het. Hy is ‘n aandmens, maar het ook nie ‘n probleem daarmee om vroeg op te staan nie. Na ‘n lang dag sien hy uit daarna om op sy bed te lê en net te ontspan.

Christiaan se gunsteling-JF-tradisie is een wat onlangs by JF ingestel is. Die Maandagoggend ná die graad 8-oriëntering, trek die matrieks die graadagts se baadjies vir hulle aan. Dit is regtig spesiaal, veral vir die blinkoog graadagts, en ’n tradisie wat in sy opinie nog lank voortgesit moet word.

Nou nog onthou Christiaan 18 Januarie 2023. Tydens die skool se JFFJ-periode, net voor 08:00, het die krag skielik afgegaan. Die hele skool was besig om 10 000 reasons te sing … en selfs toe die krag afgaan, het hulle nie ophou sing nie. Christiaan voel dat JF hierdeur gewys het dat nie eens ’n kragonderbreking hulle gaan keer om die Here te loof en te prys nie. Dit het gesorg vir ’n ware hoendervleisoomblik, en Christiaan bieg dat hy dalk ’n traan weggepink het.

Ek vra hom toe die vraag waaroor ek dink almal wonder – hoe voel hy dat hy die enigste een van die vier hoofleiers is wat nie in die koshuis is nie? Gelukkig voel hy nie uitgesluit nie, sê hy. Hy voeg wel by dat hy baie respek vir hulle het en vir dit wat hulle doen, want hy sal nie so lank weg van sy ouers af kan wees nie! Op hierdie noot voeg hy by dat sy pa vir hom ’n groot rolmodel en motiveerder is.

Toe ek hom vra wat sy droom vir JF is, antwoord hy laggend dat hy hoop juffrou Anso Esterhuizen se Lewenswetenskapklasse se punte die hoogte in sal skiet! Sy gunstelingvak is Afrikaans, en hy is veral mal oor die taalgedeelte daarvan. Mnr. Wilken is sy gunstelingonderwyser – suiwer oor sy manier van klasgee. Toe ek noem dat ek self baie opkyk na sy pa, einste mnr. Wilken, en dat hy waarlik vir my ’n inspirasie is, antwoord Christaan dadelik: “Ons (hy en sy pa) moet saam opkyk; dit kom van Bo af.”

So wat is sy drome vir die toekoms?

Na skool wil Christiaan graag Ierland toe om daar te gaan krieket speel en daarna Ingenieurswese te swot. Sy grootste droom is om vir die Proteas krieket te speel.

Christiaan beskryf homself as rustig en sportief, maar sy klasmaats beskryf hom as iemand met integriteit, humoristies, veelsydig, beginselvas, nederig en ’n gentleman. (Wat ’n ongelooflike getuienis!) Sy lewensmotto is “adapt improve and overcome” en hy glo ook vas dat “jy nooit te veel roomys kan eet nie!” Hy wil onthou word as ‘n lekker ou en vir die voorbeeld wat hy geleef het. Hy hoop dat hy kon wys dat mens nie altyd hoef te praat om mense te inspireer nie. Die drie belangrikste goed vir hom is Jesus, sy ouers en krieket.

Nog kitsfeite oor Christiaan:

Hy gebruik Aquafresh of Colgate en het ’n pienk tandeborsel. Sy gunstelingtydverdryf is om gedigte te skryf. Hy hou van koffie en beskuit. Sy laaste maaltyd op aarde sal ’n Vanilla Steri-Stumpie insluit. Sy Gunstelingbybelvers is Job 19:25.

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester Kultuur May 29, 2025

Dit gaan mal by die Maskerbal!

’n Dinosaurus, ’n lyfwag en ’n prinses wals by ’n saal in … Dit klink dalk soos ’n droë grappie, maar dit is helaas nie, want op Vrydag, 9 Mei 2025, kon jy elke sprokieskarakter uit jou kleintyd op JF se dansvloer aanskou by ons eie maskerbal!

Oester KAF May 28, 2025

BOOTLEGGERS

As jy nog nie gehoor het van die nuwe koffiewinkel “Bootleggers” nie, bly jy sekerlik onder ’n klip.

Oester Kultuur May 27, 2025

Die Classic Clash Lofsangaand

JF en Sentraal sit tydens die Classic Clashes beslis nie langs dieselfde vuur as dit kom by wie die beste skool is, of die beste gees het nie, maar een ding waarmee ons almal kan saamstem, is dat beide skole kinders van God is.