JF OESTER

POTCH: Die graad 11’s gaan groot!

Aug 29, 2025

Berig Deur Anné Roos

Die klok lui vir die tweede laaste periode. Die klank van haastige voetstappe en opgewonde gesprekke kan regoor Hoërskool Jim Fouché gehoor word, en dit is beslis nie omdat hulle op pad klas toe is nie … Potch-kamp wag!

Sestig graad 11-leerlinge van JF het ’n kans gekry om hierdie jaar die Potch-kampus te besoek. Potch-kamp word beskryf as ’n persoonlikheidsontwikkelingsgeleentheid, maar dit is meer as dit. Dit is ’n kans om weer ’n bietjie asem te haal in ’n besige derde kwartaal sodat die leerlinge weer hul voete kan vind, meer oor leierskap kan leer, en dan natuurlik hulself sommer gate uit kan geniet.

Dié 60 leerlinge het die voorreg gehad om die Universiteit van Noord-Wes te besoek – of sommer in plein Afrikaans – die Pukke! Hulle is oor die hele kampus begelei, wat die fakulteite, koshuise, sportvelde, ensovoorts, insluit. Elke leerling het ook ’n pakkie van die toergids ontvang, waarin meer inligting was oor enige vraag wat dalk sou opduik.

By die Fakulteit van die Buitenste Ruimte is daar meer geleer oor die geheime van die heelal. Die opgewonde graadelfs het ook ’n kans gekry om die son van naderby deur ’n sonteleskoop te beloer. Dié uitstappie het sommige leerders so begeester dat die moontlikheid nie uitgesluit is vir JF om ’n toekomstige ruimtevaarder op te lewer nie!

Die opgewondenheid was groot toe die universiteit se gelukbringer (’n arend) die leerlinge verras het met ’n paar kreatiewe danspassies en ’n luidspreker wat kliphard musiek speel. Die leerlinge wat saam gedans het, het ook geskenkies ontvang. Maar hou vas aan jou stoel, want dit is nog nie die beste deel nie.

Soos ons almal hier by JF weet, is daar twee spesifieke liedjies wat ons baie na aan die hart lê. Hierdie is nie net liedjies nie; dit is deel van ons JF-kultuur en tradisie. Toe “Summer of 69” en “Sweet Caroline” oor die luidspreker opklink, het elkeen van die sestig graad 11’s uit volle bors saamgesing. Dit was ‘n ware hoendervleisoomblik.

Die res van die kamp het meer gefokus op persoonlikheidsontwikkeling. Daar was ‘n hele paar sessies waartydens verskillende sprekers die JF-leerders toegespreek het, en ek kan met sekerheid sê dat die leerlinge aan hul lippe gehang het.

Die sprekers het nuwe perspektiewe oor leierskap en persoonlike opinies aan die leerlinge uitgewys. Dan was daar ook sessies wat meer oor die geestelike aspekte van die lewe gegaan het. Ek is seker die leerlinge het ook tot nuwe insigte oor hul verhouding met God gekom.

Na ‘n naweek van ver stap, honderde foto’s neem en wegduik van blare in die berugte “Lover’s lane” het die JF-leerlinge met seer voete, maar met honderde herinneringe die pad terug Bloemfontein toe aangepak.

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester Kultuur May 18, 2026

Doornkloof

Terwyl die meeste JF-leerders op toer was en ander maar net lekker hul April-vakansie geniet het, het die Voortrekkers op Doornkloof gaan kamp.

Oester KAF Mar 25, 2026

Daar is altyd lig in die donker!

As jy teen dié tyd van die kwartaal nog steeds wonder waar jy hoort, is daar daar ten minste één plek wat jou met ope arms sal verwelkom: JFFJ se nuwe LITT-kleingroepies. “LITT” staan vir Light in the Tunnel.