Tussen witbordmerke, klasroosters en pouses met koffie het daar stil-stil iets besonders by Hoërskool Jim Fouché gebeur. Wat as kollegas begin het, het gegroei in ’n storie vol liefde, lag en avonture – en nou is daar ’n troudatum op die horison! Juffrou Arné Fourie het onlangs “ja” gesê op die mooiste moontlike plek… en op die mooiste moontlike manier.
“Ons het mekaar as onderwysers by JF ontmoet,” vertel juffrou Arné, wat onlangs verloof geraak het aan een van ons vorige geliefde onderwysers, meneer Elof Scheepers.
Hulle was met vakansie in Semonkong, Lesotho toe die groot oomblik gebeur het. “Die Saterdag het ons toe gaan piekniek hou by Maletsunyane-waterval. Na die piekniek het ons op ’n krans gaan sit. Hy het my regop getrek en toe sy knie gebuig en my gevra. Dit was ’n oomblik wat ek nooit sal vergeet nie. Dit was ’n verrassing, al het ek geweet die tyd begin naderkom.”
“Ek het dadelik ja gesê, nadat ek ophou huil het,” lag sy.
Na ʼn jaar en 8 maande se saamwees, beplan die twee nou aan hul droomdag. “Glad nie ’n tradisionele rok nie. Ons wil baie graag in die berge trou. Dalk Clarens. Iets klein en intiem.”
Wat sien sy in hul toekoms? “Om saam oud te word. Maar voor dit om baie avonture saam te beleef, baie nuwe plekke te sien en saam op die stoep te sit en na die sonsak te kyk.”
Op die vraag oor hul gunstelingherinneringe antwoord sy: “Baie kampe, baie ver stap, baie kilometers ry, baie ure saam. Daar is heeltemal te veel om aan iets spesifieks te dink. Hy sing graag liedjies wat in Engels is in Afrikaans. Maar dan gee hy dit altyd die snaaksste stemme.”
En die droomwittebrood? “Kroasië. Sicily, Italië. Ons wil ook langs ons eie kus rondtoer.” Wat natuurlik sin maak aangesien haar verloofde ook ʼn passie het vir Geografie!
Haar raad aan ander? “Moenie daarvoor soek nie, liefde sal jou vind wanneer jy dit die minste verwag.” En met haar eie wysheid sluit sy af: “Vind jouself. Moenie jouself in ander mense gaan soek nie. Wanneer jy weet wie jy is in jou core, gaan jy die persoon vir jou vind.”
0 Comments