JF OESTER

Liefde op ’n krans – Juffrou Arné se sprokiesverlowing!

Jun 12, 2025

Berig Deur Adele Pienaar

Tussen witbordmerke, klasroosters en pouses met koffie het daar stil-stil iets besonders by Hoërskool Jim Fouché gebeur. Wat as kollegas begin het, het gegroei in ’n storie vol liefde, lag en avonture – en nou is daar ’n troudatum op die horison! Juffrou Arné Fourie het onlangs “ja” gesê op die mooiste moontlike plek… en op die mooiste moontlike manier.

“Ons het mekaar as onderwysers by JF ontmoet,” vertel juffrou Arné, wat onlangs verloof geraak het aan een van ons vorige geliefde onderwysers, meneer Elof Scheepers.

Hulle was met vakansie in Semonkong, Lesotho toe die groot oomblik gebeur het. “Die Saterdag het ons toe gaan piekniek hou by Maletsunyane-waterval. Na die piekniek het ons op ’n krans gaan sit. Hy het my regop getrek en toe sy knie gebuig en my gevra. Dit was ’n oomblik wat ek nooit sal vergeet nie. Dit was ’n verrassing, al het ek geweet die tyd begin naderkom.”

“Ek het dadelik ja gesê, nadat ek ophou huil het,” lag sy.

Na ʼn jaar en 8 maande se saamwees, beplan die twee nou aan hul droomdag. “Glad nie ’n tradisionele rok nie. Ons wil baie graag in die berge trou. Dalk Clarens. Iets klein en intiem.”

Wat sien sy in hul toekoms? “Om saam oud te word. Maar voor dit om baie avonture saam te beleef, baie nuwe plekke te sien en saam op die stoep te sit en na die sonsak te kyk.”

Op die vraag oor hul gunstelingherinneringe antwoord sy: “Baie kampe, baie ver stap, baie kilometers ry, baie ure saam. Daar is heeltemal te veel om aan iets spesifieks te dink. Hy sing graag liedjies wat in Engels is in Afrikaans. Maar dan gee hy dit altyd die snaaksste stemme.”

En die droomwittebrood? “Kroasië. Sicily, Italië. Ons wil ook langs ons eie kus rondtoer.”  Wat natuurlik sin maak aangesien haar verloofde ook ʼn passie het vir Geografie!

Haar raad aan ander? “Moenie daarvoor soek nie, liefde sal jou vind wanneer jy dit die minste verwag.” En met haar eie wysheid sluit sy af: “Vind jouself. Moenie jouself in ander mense gaan soek nie. Wanneer jy weet wie jy is in jou core, gaan jy die persoon vir jou vind.”

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester KAF May 29, 2026

Die Big Brag

Die jaarlikse Big Brag was weereens ’n besonderse hoogtepunt op JF se kalender. ’n Dag gevul met trots, opgewondenheid en ware JF-gees.

Oester Kultuur May 25, 2026

Gelykop

Classic Clash — ’n mens dink altyd net aan die rugby-, hokkie- en netbaluitslae, maar aan skaak dink ’n mens nie dikwels nie.

Oester Kultuur May 18, 2026

Doornkloof

Terwyl die meeste JF-leerders op toer was en ander maar net lekker hul April-vakansie geniet het, het die Voortrekkers op Doornkloof gaan kamp.