JF OESTER

Anton van Wyk Koshuis: ‘n Huis Weg van die Huis

Feb 17, 2025

Berig Deur JF Oester

Anton van Wyk Koshuis: ‘n Huis Weg van die Huis

In die bruisende wêreld van die Anton van Wyk Koshuis is daar ‘n nuwe paartjie wat die hartklop van die huis vorm – oom Neels en tannie Lea Lubbe. Hulle is nie net koshuisouers nie, maar ook mentors, raadgewers en die stewige anker vir menigte leerders wat ver van hul eie huise af is.

Maar waar het hierdie dinamiese duo begin? “Ons het by ‘n partytjie ontmoet,” vertel tannie Lea met ‘n glimlag. “Maar nee, dit was nie liefde met die eerste oogopslag nie. Dit het ‘n paar kuiers gevat voordat die vonke behoorlik gespat het.”

Nou, 42 jaar later, is hulle stééds ‘n span – nie net in die huwelik nie, maar ook in hul roeping as koshuisouers. Met drie seuns en drie kleinkinders, verstaan hulle die dinamika van ‘n besige huis, iets wat beslis handig te pas kom in hul daaglikse take.

Vir die afgelope 30 jaar is oom Neels en tannie Lea die rugsteun van talle jong lewens. Hul koshuisreis het by Motheo FET College begin, later het hulle na Hoërskool Namakwaland in Springbok geskuif en uiteindelik hul plek gevind by Anton van Wyk Koshuis in Bloemfontein. “‘n Tipiese dag begin voor die haan kraai,” sê oom Neels. “Van dagbeplanning tot ontbyt, inspeksie en selfs herstelwerk – daar is nie ‘n vervelige oomblik nie.”

‘n Huis met Tradisies en Waardes

Een van die belangrikste reëls in die koshuis is die in- en uittekenstelsel. “Toesig en beheer is noodsaaklik,” verduidelik tannie Lea. Maar dissipline is net so belangrik. “Dit leer selfstandigheid en verantwoordelikheid – lewenslesse wat die leerders hulle lewe lank sal dra.” Tradisies soos samehorigheid lê hulle ook na aan die hart. “Ons wil hê die kinders moet voel hulle is deel van ‘n groter familie,” sê sy. “Ons doen dit deur betrokke te wees – in groot en klein oomblikke.”

Die koshuiswêreld het oor die jare verander. Waar kinders vroeër op hulself aangewese was, is daar nou ‘n sterk netwerk van ondersteuning. “Ons probeer leerders leer om respek en omgee vir mekaar te hê,” voeg oom Neels by. “As ons mekaar met liefde en deernis behandel, maak dit die wêreld ‘n beter plek.”

Toekomsdrome vir Anton van Wyk Koshuis

Maar wat hou die toekoms in? “Ons droom daarvan om Anton van Wyk die beste koshuis in Bloemfontein te maak – ‘n huis waar kinders nie net bly nie, maar tuis voel,” sê hulle met trots. En om daardie visie te bewaarheid, is daar reeds planne in die pyplyn, insluitend opgraderings aan die seunsbadkamers om dit op dieselfde hoë standaard as die meisiesbadkamers te bring.
Met hul liefde vir jongmense, hul sterk waardes en hul toewyding daaraan om ‘n verskil te maak, is dit duidelik: oom Neels en tannie Lea is meer as net koshuisouers – hulle is die hart van Anton van Wyk Koshuis.

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester KAF May 29, 2026

Die Big Brag

Die jaarlikse Big Brag was weereens ’n besonderse hoogtepunt op JF se kalender. ’n Dag gevul met trots, opgewondenheid en ware JF-gees.

Oester Kultuur May 25, 2026

Gelykop

Classic Clash — ’n mens dink altyd net aan die rugby-, hokkie- en netbaluitslae, maar aan skaak dink ’n mens nie dikwels nie.

Oester Kultuur May 18, 2026

Doornkloof

Terwyl die meeste JF-leerders op toer was en ander maar net lekker hul April-vakansie geniet het, het die Voortrekkers op Doornkloof gaan kamp.