Daar is baie min woorde wat kan beskryf hoe dit voel wanneer die Here jou in ’n posisie plaas wat mense gesê het jy nie sal kan doen nie! Daar is wel een woord waaraan ek kan dink: “WOW!” Ek is gevul met dankbaarheid. “Hoofseun” is nie net ’n titel nie, maar ’n kans om ’n positiewe verskil in mense se lewens te maak. Steeds glo ek sterk dat jy ’n verskil kan maak sonder ’n titel agter jou naam.
My grootste doelwit is om elke leerder te laat voel dat hulle hier hoort. Niemand moet ooit voel hulle pas nie in nie, of dat hulle alleen staan nie. Ek wil hê ons skool moet ’n plek wees waar almal gemaklik voel om hulself te wees.
Ek wil ook graag die idee verander dat hoofleiers “anders” of beter is. Ons is presies dieselfde as enige ander leerder! Ons sukkel nét so baie. Ons leer nog en het steeds so baie om te leer.Ons maak ook foute, want ons is elkeen net mens. Ek wil hê leerders moet voel hulle kan met my praat, sonder vrees of ongemak. Ek weet dat leerders soms voel hulle is alleen; dit was mý storie – tot God my storielyn verander het. Ek wil dit vir elke leerder in JF hê.
Vir my is dit belangrik om ’n veilige, betroubare persoon te wees vir enigiemand wat hulp soek of net iemand nodig het om te luister. Of dit nou groot of klein is.
Ek wil onthou word vir my “Courage for my faith.” Om sonder vrees op te staan vir dit waarin ek glo. Nie net met my woorde nie, maar met my dade wat ek daagliks uitleef.
Ek is kinderlik opgewonde om die skool in 2026 saam met baie goeie leiers (en vriende) te dien. Dan leef ons uit: “Saai om te oes.” Vir jou en vir my.



0 Comments