JF OESTER

0/19C: Kampioene van die Rosestad

Aug 1, 2025

Berig Deur Adele Pienaar

In ’n skool waar elke nuwe jaar met dieselfde woorde afgeskop word — “Elke span is belangrik, van die A-span tot die E-span” — het ons 0/19C-netbalspan iets besonders gedoen. Hulle het nie net gespeel nie. Hulle het gewen. Hulle het nie net gewen nie. Hulle het die stadsliga gewen!

Die 0/19C-span het hierdie seisoen regtig gewys wat spanwerk, deursettingsvermoë en pure talent beteken. Van hul eerste wedstryd af was dit duidelik: Hierdie groep het gekom om die kompetisie op hul neuse te wys! Met slegs ’n handjievol nederlae deur die hele jaar, is dit duidelik dat hul rekord nie net “goed” is nie — dis kampioenmateriaal!

Wat mense dalk nie sien nie, is wat agter die skerms gebeur. Die sweet. Die blou kolle. Die opofferings. Hierdie span het elke dag opgedaag — soms moeg, soms koud, soms met huiswerk wat wag — maar altyd daar, altyd gereed om te oefen en beter te word. Hulle het nie net vir hulself gespeel nie, maar vir mekaar. Want dit is wat hulle ’n wenspan gemaak het: ware spanwerk en ’n ongelooflike toewyding aan hul sport én aan mekaar.

Maar geen groot wenspan is volledig sonder ’n merkwaardige afrigter nie — en dié een is ’n ster in eie reg. Juffrou Nicolene Joubert was die dryfkrag agter hierdie span se sukses. Met haar passie vir netbal, haar positiewe gees en haar onwrikbare geloof in elke speler, het sy nie net hul tegniek geslyp nie, maar hul harte geïnspireer. Sy het nie net afgerig nie; sy het selfvertroue gebou, en spaneenheid en ware sportmanskap gekweek.

Die 0/19C-span het gewys wat dit beteken om ware sportsterre te wees. En of hulle op papier nou eerste of derde is, hulle sal altyd in ons oë wees: eerste plek vir trots, spanwerk, deursettingsvermoë en ’n coach wat hulle met haar hele hart ondersteun het.

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester KAF May 29, 2026

Die Big Brag

Die jaarlikse Big Brag was weereens ’n besonderse hoogtepunt op JF se kalender. ’n Dag gevul met trots, opgewondenheid en ware JF-gees.

Oester Kultuur May 25, 2026

Gelykop

Classic Clash — ’n mens dink altyd net aan die rugby-, hokkie- en netbaluitslae, maar aan skaak dink ’n mens nie dikwels nie.

Oester Kultuur May 18, 2026

Doornkloof

Terwyl die meeste JF-leerders op toer was en ander maar net lekker hul April-vakansie geniet het, het die Voortrekkers op Doornkloof gaan kamp.