Die aand van Meneer en Mejuffrou JF is vir seker ’n datum waarna almal jaarliks uitsien, veral die finaliste. Die tema van 2025 was “A night at the Nile.” Die skoolsaal is glansryk opgemaak met die mooiste Egiptiese dekor. Dié goue aand het gespreek van koninklikheid.
Benita Jacobs het die verrigtinge pragtig gelei. Sy het beslis ’n aansteeklike energie en het die hele gehoor vermaak. Een hoogtepunt was toe ’n paar pa’s uit die gehoor gevra is om op die verhoog te kom dans. Ek glo almal was aangenaam verras met die danspassies wat dáár uitgekom het. Breë glimlagte was alomteenwoordig. Zeezo Pheiffer, aan die einde van die aand as Mnr. Persoonlikheid gekroon, se pa het die grootste applous ontvang. (Nou weet ons waar Zeezo sy uitstekende karakter vandaan kry – aardjie na die vaartjie!)
Die finaliste se eerste uitrusting is gebaseer op Egiptiese kleredrag. Hulle het almal baie goeie eerste indrukke gemaak. Elkeen was geklee in goud en wit, en het van kop tot toon geskitter. Die meisies het daarna in skemerkelkierokke geparadeer. Hulle moes hulself voorstel en dan hul beste loopplankbewegings uithaal om die beoordelaars te beïndruk. Die manne, baie netjies en aantreklik, was toe volgende aan die beurt.
Laastens het die dames in lang rokke en die manne in deftige pakke na vore gekom. Hulle het besonders mooi gelyk. Die finaliste moes in hierdie laaste oomblikke ook elkeen ’n vraag beantwoord, byvoorbeeld: “Wat is iets wat niemand sal weet deur net na jou te kyk nie?” en “Hoe sal jy die verantwoordelikhede van Meneer/Mejuffrou JF hanteer?”
Die groot vraag wat almal eintlik wil weet … Wie het met die krone weggestap?
Meneer en Mejuffrou JF 2025 is Hanro Marais en Niqlynn Coetzee!
Hanro het ongetwyfeld ’n onvergeetlike indruk op die gehoor en beoordelaars gemaak. Hy was onmiddellik ’n “crowd favourite” ná hy homself voorgestel het met: “Ek is Hanro Marais en almal wil my hê.” Hy het ook ’n baie sinvolle antwoord op sy vraag “Wat is een ding wat jy in Jim Fouché wil verander?” gegee. Die gehoor het aanklank hierby gevind en saamgestem met sy stelling dat hy graag die mure tussen sport en kultuur sal wil afbreek. Hanro het ook seker gemaak die aand gaan nie vervelig verby nie – almal het geskaterlag toe hy die verhoog “in styl” verlaat nadat sy broek se nate losgebars het. Hy het hom létterlik gate uit geniet!
Niqlynn was net so indrukwekkend en het almal beïndruk met haar voorkoms én persoonlikheid. Sy was deurlopend ’n skitterende en entoesiatiese finalis, en op die ou end die verdienstelike wenner. Sy het gesê dat sy altyd voluit deelneem en 100% gee in alles wat sy aanpak. Ons kon hierdie gesindheid definitief op die verhoog waarneem. Niqlynn het nie net weggestap met die kroon van Mej. JF nie, maar óók die titel van Mej. Persoonlikheid. Wat `n goeie voorbeeld stel sy nie vir elke JF-leerder nie – as iemand wat mooi is van binne EN van buite.
Baie ironies was Adrian de Necker en Nerika Casselegio aangewys as onderskeidelik Mnr. en Mej. Fotogenies, terwyl hulle as ’n paartjie ingeskryf was. Hierdie twee ken vir seker hulle “goeie kant!”
Natuurlik is daar ander wenners ook:
Baie geluk aan Carli Momberg (1ste prinses), Janien van Eeden (2de prinses), Franco Oberholzer (1ste prins) en Bendré Vermaak (2de prins).
A night at the Nile was onvergeetlik en baie spesiaal. JF is so trots op elkeen wat deelgeneem het en baie dankbaar vir elkeen wat kom ondersteun het.
0 Comments