Waar ook al daar Afrikaans is, is daar kans vir saam praat, saam luister en saam staan. Kans vir opbou … sonder ophou. Kans vir skep – vreesloos en skaamteloos. Kans om elke tree in een reusesprong te verander.
Afrikaans vier in 2025 haar eeufees as amptelike taal. Hoewel ons die taal al vir honderde jare gebruik, vier ons op 8 Mei 2025 ’n besonderse mylpaal: 100 jaar sedert Afrikaans amptelik erken is.
Maar wat beteken dit juis wanneer ’n taal amptelike status verwerf? Dit beteken dat die taal deur die regering wetlik erken word vir gebruik in onderwys, regspraak, administrasie en openbare lewe. Vir Afrikaans het hierdie geskiedkundige oomblik op 8 Mei 1925 aangebreek — ’n oomblik wat die weg gebaan het vir die taal om te floreer in skole, universiteite, parlemente en selfs howe. Afrikaans het binne enkele dekades van ’n huistaal tot ’n volwaardige akademiese taal ontwikkel — een van die vinnigste taalontwikkelings ter wêreld. Dit is ’n merkwaardige prestasie, getuig van gemeenskappe wat trots, toewyding en vasberadenheid beliggaam.
Afrikaans is vandag een van Suid-Afrika se elf amptelike tale, en dié ryk nalatenskap word onder meer gevier met die Afrikaanse Taalmonument in Paarl. Die monument dien as ’n sigbare baken van hoop vir die ontwikkeling en erkenning van álle Afrikatale. Geïnspireer deur die natuurlike omgewing en Afrikaanse skrywers se beskrywings van die taal, het Jan van Wijk — die argitek — ’n simboliekbelaaide struktuur ontwerp wat organies met die inheemse fynbos versmelt. Water, rots en taalwortels vloei saam om ’n ewiggroeiende taalboom te vorm — stewig gewortel in Afrika.
Afrikaans is veelsydig, kleurvol en uniek. Dit bevat treffende taalverskynsels, boeiende woorde en betekenisvolle idiome. JF-leerders en -onderwysers is duidelik passievol oor Afrikaans. By JF het ons selfs ’n biblioteek, gestig deur juffrou Annali Wilken – ’n plek waar stories leef. Ons onderwysers se liefde vir die taal is aansteeklik… en dít is hoekom JF-leerders so gaande is oor Afrikaans! ’n Paar van hul gunsteling-Afrikaanse woorde sluit in: lukraak, kraakvars, poenankies, sloertoer en flaterwater.
Wat ’n heerlike skatkis van woorde!
Laastens — ’n interessante feit: Afrikaans word internasionaal as een van die maklikste tale beskou om aan te leer. Met ’n eenvoudige, moderne grammatika, geslagsvrye naamwoorde en ’n oorvloed beskrywende en idiomatiese uitdrukkings, is Afrikaans nie net toeganklik nie, maar ook ongelooflik kreatief. Jaarliks verruim ons die taal met oorspronklike, nuwe woorde – ’n bewys van Afrikaans se lewenskragtigheid en aanpasbaarheid.
Mag 8 Mei vir elkeen ’n dag van viering wees – ’n dag om ons geliefde taal te eer! Dink gerus aan jou eie gunsteling-Afrikaanse woord, idioom of boek… en vier saam!
0 Comments