JF OESTER

BTW-verhoging – eufemisme vir jeugonderdrukking

Apr 23, 2025

Berig Deur Jaco Deysel

Geskryf deur Jaco Deysel – Jim Fouché OESTER(skoolkoerant) 

’n BTW-verhoging lyk dalk na ’n “grootmensprobleem” – die soort wat in parlementsale en nuuskamers bespreek moet word. Maar … Sy skadu strek tot in ons klaskamers, in ons kosblikke en in die daaglikse lewens van leerders regoor die land. Daarom is ons as leerders vuisvoos – as óns nie daaroor praat nie, wie sal? 

Net ‘n halwe persent.  

Dit is wat hulle gesê het. Net ‘n klein stootjie – ‘n klein tweak om die land se finansies te red. Maar daardie “klein stootjie” tref soos ‘n slaggat op ‘n stukkende pad – veral as jou brandstoftenk reeds laag loop weens rooigedrukte brandstofpryse.  

Vir die meeste politici is 0,5% skaars ‘n druppel in die emmer. In teenstelling hiermee, is dit vir die gemiddelde Suid-Afrikaner nog een sny in ‘n duisend, wat ons droog laat bloei terwyl ons aangesê word om akkoord te gaan daarmee – om geduldig te wees, om te verstaan, om gordels wat reeds op die laaste gaatjie is, styf te trek. 

Daardie ekstra halwe persent heg hom stilweg aan byna alles – brood, busgeld, skoolboeke, die pen wat jy nou gebruik – en skielik kos dit meer om bloot te lewe. Hy heg hom aan die geluid van ‘n stukkende projektor, aan die skeurgeluid van ‘n uniform wat nie vervang kan word nie, en aan die stille kreun van die leerder wat swygend pouse-ete moet oorslaan. 

Vir gesinne wat reeds met beperkte begrotings moet oorleef, is dit asof prysetikette hul smalend uitlag. 

Hierdie toename is meer as net ‘n knarsende getal op ‘n staatsbegroting – dit raak ons huise en skole ten seerste. Die snoepietannie wat jou naam ken, moet skielik meer vir snoepiehappies vra; skooluitstappies loop nou die gevaar van kansellasie, en daardie nuwe skoolsweetpak sal dalk ‘n klein bietjie langer moet wag.  

Daardie “klein stootjie” beteken dat jou ma se kruidenierswarerekening sopas gestyg het. Dit beteken minder munte in die snoepie-tou en meer ongemaklike stiltes wanneer ‘n ouer moet erken dat hulle nie nog ‘n skoolfondsinsameling kan bekostig nie.  

En nee, skole kry nie ‘n magiese belastingvrystelling nie. Skole betaal nou meer vir boeke, vir toiletpapier en vir brandstof om skoolbussies te laat ry – al die klein goedjies wat die ligte aan en die deure oophou. 

Die kersie op die koek: Raai wie voel hierdie stootjie? Nie dié wat die begroting onderteken nie.  

Ons doen. Die leerders.  

Die onskuldige kleuters met ritselende swaaistelle, verbrokkelende klaskamers en groot drome. Daar word aan hulle vertel dat onderwys die toekoms is, maar hoe is hulle veronderstel om aan daardie toekoms te bou wanneer selfs hul potlode swaarder belas word? 

Maar, laat ek die aap uit die mou laat – ons is nie magteloos nie. Ons gee aandag. Ons vra vrae. Ons skryf artikels, verhef skoolstemme en vind maniere om mekaar te ondersteun. Of dit nou is om handboeke te deel, saamryklubs te stig, óf om deur verdraagsaamheid net te verstaan ​​dat nie almal dieselfde dinge kan bekostig nie. 

Ons leer hoe om op ’n vreedsame en patriotiese wyse terug te druk – saam – met ons skoolstemme. Die stelsel is dalk gebrekkig, maar ons stem is nie. 

Want selfs met die gewig van 0,5% op ons rug, hou ons aan beweeg. En dit is iets wat geen belasting kan wegneem nie. 

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester Kultuur May 29, 2025

Dit gaan mal by die Maskerbal!

’n Dinosaurus, ’n lyfwag en ’n prinses wals by ’n saal in … Dit klink dalk soos ’n droë grappie, maar dit is helaas nie, want op Vrydag, 9 Mei 2025, kon jy elke sprokieskarakter uit jou kleintyd op JF se dansvloer aanskou by ons eie maskerbal!

Oester KAF May 28, 2025

BOOTLEGGERS

As jy nog nie gehoor het van die nuwe koffiewinkel “Bootleggers” nie, bly jy sekerlik onder ’n klip.

Oester Kultuur May 27, 2025

Die Classic Clash Lofsangaand

JF en Sentraal sit tydens die Classic Clashes beslis nie langs dieselfde vuur as dit kom by wie die beste skool is, of die beste gees het nie, maar een ding waarmee ons almal kan saamstem, is dat beide skole kinders van God is.