Skool, maar met ‘n kinkel.
Waar jy een raak met die natuur …
Die eerste week van Februarie is ’n tyd wat die graad 9’s nie sommer sal vergeet nie! Dis die week waar hulle nêrens op die skoolterein gevind kon word nie, maar eerder in die berge tusse spinnekoppe, slange, skerpioene en vele meer – op ‘n gasteplaas genaamd Imla.
Maandag, 3 Februarie, is daar ’n behoorlike gedreun tussen die opgewonde, maar tog skrikkerige graad 9’s, oor die week wat vir hulle voorlê, en ná ’n paar keer se stilmaak in die klasse, sal mens seker wees dat die onderwysers verlig was toe die skoolklok gelui het om tjailatyd aan te kondig.
Alhoewel Maandag se opgewondenheid groot was, het dit net vergroot toe almal Dinsdagoggend op die eiland tussen Hoërskool Jim Fouché en die Spar-winkelsentrum moes aantree om tasse te pak en dan later te vertrek. Na elle lange toustaan, kon elkeen uiteindelik ’n plek in ‘n bus kry en gereed maak vir die vertrek na Imla, waar ’n vol program op hulle gewag het.
Na wat omtrent soos ’n ewigheid vir sommiges gevoel het, is daar uiteindelik voete op groen gras gesit, voor die uitsig van ’n massiewe berg, wat later deur ongeveer 230-leerders uitgeklim sou word. Na die indeling in tente is die ys sommer gou-gou gebreek deur ’n paar speletjies wat die leerders spontaan laat lag het. Met speletjies soos water-en-spons, na ’n waterballon met jou voete oor jou kop vir jou maat aangee, het elke graad 9-leerder se oë gevonkel van lekkerkry. Hiermee is die dag met ’n stappie na die dam afgesluit, waar nog speletjies gespeel is en ‘n oorlog met modderklonte in die water uitgebreek het.
Met Dinsdag wat maar net uit ’n klompie ysbrekers bestaan het, was die leerders se bekertjies nog steeds vol energie wat baie vinnig, baie maklik gedreineer is met die groot staptog.
As mens die berg sommer so vlak kyk, sou mens die effek van die klim op jou kuite maklik kon onderskat. En ongelukkig is dit presies wat die graadneges gedoen het. Daarom het Liané Coetzer gesê dat sy definitief vir haar jonger self sou aanbeveel om fikser te word voordat sy op dié kamp sou gaan. Ten minste, na die voltooiing van die 11 km-staptog, kon hulle ’n vinnige duik in ’n dammetjie vat voordat hulle gaan stort het.
Ten spyte van die moeë kinders, is daar nog steeds met volle borste lof en eer aan die Here gegee toe daardie aand, net voor slaaptyd, lofprysing en aanbidding gehou is, wat die leerders weer geestelik as ’n graad versterk het.
Toe die tyd aanbreek het vir die son om sy strale weer te laat skyn, was meer as die helfte van die kinders nogals bly dat dit die laaste volle dag was voordat hulle Vrydag, 7 Februarie, terug skool toe moes keer.
Die volgende staptog was gelukkig net 4 km, en hiertydens het die leerders ’n asemrowende kloof besoek, wat beslis een as een van die “lekkerder” aktiwiteite beskryf is. Met die laaste stap na die dam het die wolke begin toetrek, wat duidelik reën voorspel het, en die graad 9’s hoop gegee het om die hindernisbaan te vermy. Maar ongelukkig het hul wense nie waar geword nie toe die reën vinnig oor was en al die wolke verdwyn het.
Die prys vir die drie vinnigste spanne deur die hindernisbaan, was vleis vir hul span se potjiekos later daardie aand. Na ’n groot gesukkel, luiperdkruip deur ses opeenvolgende moddergate en aanmoediging van spanmaats, is span 1, 2 en 3 as die wenners aangekondig. Nogtans het daar ’n verrassing vir span 4 en 5 voorgelê, toe hulle ook darem toegelaat is om vleis by hulle potjie te gooi.
Hierdie kamp het gesorg vir groot pret, eenheid, en tonne herinneringe, en dit is alles te danke aan die JF- en Imla-personeel wat soveel moeite gedoen het, sowel as aan God wat almal veilig bewaar het.
Van die staptogte, na paddas in meisies se tente gooi en dan in ruil daarvoor liggaamsoefeninge doen, kan elke leerder saamstem dat daar boeke oor die buitelugskool van 2025 geskryf kan word.
0 Comments