JF OESTER

Leer ken vir Juffrou Ine-Marie

Feb 27, 2025

Berig Deur Ansje Bekker

Watter vakke bied Juffrou aan en wat het Juffrou op hierdie vakke laat besluit?

Ek bied Besigheids- en Verbruikerstudies aan.
Die rede vir my keuses van my vakke is:
Ek glo dat Besigheidstudies leerders kan toerus met kennis oor die grootmenslewe wat op hulle voorstoep wag. Die vak help ook met entrepreneurseienskappe, kritiese denke en probleemoplossing.

Verbruikerstudies is meer as net kook, pret en proe. Dit gaan vir my ook oor lewensvaardighede, net soos Besigheidstudies – van slim finansiële bestuur tot gesonde, lekker leefstyle en kreatiwiteit. Ek wil hê leerders moet hierdie vaardighede gebruik om beter en makliker keuses te maak. Dit gee my vreugde om te sien hoe hulle selfvertroue groei wanneer hulle praktiese take bemeester en sommer net die kombuis geniet.

Ek glo dat hierdie twee vakke hand aan hand loop om vandag se leerders met die regte gereedskap vir die toekoms toe te rus. Leerders is nie net besig om eksamenpunte te jaag nie, maar ook om waardevolle lewenslesse te leer.

Is Juffrou betrokke by enige buitemuurse aktiwiteite by JF? Indien ja, wat is dit en hoekom stel Juffrou daarin belang?

Ja, ek is betrokke by die tennis van die skool.Ek het nog altyd ’n baie groot liefde vir tennis gehad, om die sport te kyk en self te speel.

Tennis is ’n sport wat dissipline, deursettingsvermoë en strategiese denke verg. Verder is tennis ook ’n sport wat individuele groei bevorder, maar ook spanbou aanmoedig wanneer hulle in dubbels meeding.

Wat is Juffrou se droom as onderwyseres? Wat wil Juffrou graag bereik in JF?

My droom as onderwyseres is om ’n positiewe en blywende impak te maak op elke leerder vir wie ek skool gee. Ek wil hê dat elke kind wat my klaskamer binnekom, met selfvertroue en ’n passie vir leer, moet uitstap. Ek streef daarna om hulle nie net akademies voor te berei nie, maar soos ek reeds genoem het, ook lewensvaardighede te leer wat hulle in die regte wêreld kan gaan gebruik.

Ek wil graag ’n klaskamerkultuur skep waar leerders voel hulle stem gehoor word en hul drome ondersteun word. As onderwyseres hoop ek om, deur my menswees, ’n bron van inspirasie en leiding te wees, iemand wat leerders motiveer om hul volle potensiaal te bereik.

Oor die lang termyn wil ek graag help om die gehalte van onderrig in die skool verder te versterk. My grootste doel en wens is dat elke leerder, ongeag hul agtergrond, met hoop en ambisie na die toekoms kan kyk.

Wat is die lekkerste en die slegste deel van ‘n onderwyseres wees?

Die lekkerste dele waaraan ek nou vinnig kan dink, is:

  • Die invloed op leerders se lewens: Dit is ongelooflik bevredigend om te sien hoe leerders groei, hul selfvertroue bou en sukses behaal – of dit in hul akademiese werk, sport of persoonlike lewens is.
  • Die daaglikse interaksie met leerders en die kans om elkeen se unieke persoonlikhede te leer ken, maak elke dag interessant en vullend. Elke dag is anders: Geen twee dae in die klaskamer is ooit dieselfde nie, en dit maak elke dag vol verrassings.
  • Natuurlik ook die VIER vakansies per jaar – Amper vergeet ek van DIE lekkerste gedeelte van ‘n onnie wees.

Ek sal nou nie sê slegste nie, maar eerder slegter of minder gewilde dele van onderwys, is:

  • Admin! Soms voel dit so oorweldigend, en dit voel of dit tyd wegneem van voorbereiding en interaksie met leerders.
  • Die feit dat ander mense (wat nie onderwysers is nie) dink ons werk net tot 14:00. Die werk eindig nie noodwendig wanneer die skoolklok lui nie – baie tyd word spandeer aan beplanning, nasien en ekstrakurrikulêre aktiwiteite, maar daarom moet ‘n mens seker wees jy LOVE wat jy doen, anders voel elke dag soos werk.

Alhoewel die beroep sy eie uitdagings het, oortref die vreugde wat dit vir my bring altyd die minder lekker oomblikke. Dit is ’n voorreg om ’n rol in leerders se lewens te kan speel en om deel te wees van hul reis na ’n blink toekoms.

Wat het Juffrou na JF toe getrek en hoe is die ervaring tot dusver?

Ek was self hier op skool gewees. Dit was altyd die droom om eendag weer te kan kom skool gee waar ek skool gegaan het.

Ek het nog altyd die “gemeenskapsgevoel”  waardeer wat hier heers en die toewyding van die personeel om elke leerder se potensiaal te ontsluit. My ervaring is baie positief.

Ek geniet dit om saam met ‘n toegewyde, entoesiastiese en energieke span te kan werk wat dieselfde passie vir onderwys deel.  Ek sien uit daarna om verder by te dra tot die sukses van die skool en om nuwe uitdagings met entoesiasme aan te pak, natuurlik saam ‘n wonderlike personeelgroep.

Waar het Juffrou grootgeword en skoolgegaan? Vertel ’n interessante storie oor Juffrou se skoolloopbaan.

Ek is nog altyd van Bloemfontein. Ek was in Tjokkies in die laerskool en in 2009 het my pad met JF begin. Ek het 2014 hier gematrikuleer.

’n Interessante storie van my skoolloopbaan is dat ek my lewensmaat hier ontmoet het en tot vandag toe nog net so verlief is soos die begin van 2011.

Wat is Juffrou se lewensmotto of iets waarvolgens Juffrou leef?

My lewensmotto gaan daaroor om ’n verskil in iemand ander se lewe te maak, al is dit net deur ’n glimlag.

Dan hou ek daarvan om myself van die volgende dinge te herinner:

  • Soek die lig, selfs in die donkerste oomblikke.
  • Jy kan nie altyd beheer wat gebeur nie, maar jy kan beheer hoe jy daarop reageer.
  • Behandel ander soos jy self behandel wil word.
  • Spreek lewe!

Watter stokperdjies het Juffrou?

Ek hou van TV kyk
Kaste regpak
Tennis
Karre
Avonture aan te pak saam met my man

Beskryf jouself in 3 woorde.

Vriendelik, energiek / entoesiasties en beslis ’n babbelbek

 As Juffrou vir een dag iemand anders in JF kon wees… wie sou dit wees en hoekom?

Ek dink ek sal graag mnr. Wilken sou wou wees. Ek bewonder hoe hy altyd kalm en selfversekerd kan bly, selfs onder druk, en hoe hy die hele span motiveer om hulle beste te gee. Ek dink dit sal interessant wees om daardie verantwoordelikheid te ervaar en ’n positiewe invloed op ander te hê.

Wat is die eerste ding wat Juffrou doen wanneer Juffrou opstaan in die oggende?

Na ek my oë natuurlik oopgemaak het, gaan kook ek beslis die ketel!

Wat sal Juffrou op Mars doen vir lekkerte?

Ek sal beslis selfies wil neem met die aarde in die agtergrond, soos wat ek die nuwe plek verken. Dan sal ek seker ook sandkastele probeer bou.

Dit is `n voorreg om so ’n passievolle onderwyseres by JF te kan hê met soveel drome en liefde vir haar leerders. Sterkte, juffrou Ine-Marie, met die skooljaar!

Leer ken vir Juffrou Ine-Marie

 

 

 

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester Kultuur May 29, 2025

Dit gaan mal by die Maskerbal!

’n Dinosaurus, ’n lyfwag en ’n prinses wals by ’n saal in … Dit klink dalk soos ’n droë grappie, maar dit is helaas nie, want op Vrydag, 9 Mei 2025, kon jy elke sprokieskarakter uit jou kleintyd op JF se dansvloer aanskou by ons eie maskerbal!

Oester KAF May 28, 2025

BOOTLEGGERS

As jy nog nie gehoor het van die nuwe koffiewinkel “Bootleggers” nie, bly jy sekerlik onder ’n klip.

Oester Kultuur May 27, 2025

Die Classic Clash Lofsangaand

JF en Sentraal sit tydens die Classic Clashes beslis nie langs dieselfde vuur as dit kom by wie die beste skool is, of die beste gees het nie, maar een ding waarmee ons almal kan saamstem, is dat beide skole kinders van God is.