By Hoërskool Jim Fouché word ons nie net geïnspireer deur die leerders se prestasies nie, maar ook deur ons eie personeel. Juffrou Elmeré van der Berg maak haar merk op internasionale netbalbane, terwyl sy steeds haar passie vir onderwys uitleef.
Hierdie oud-JF’er se passie vir netbal het op laerskool begin toe sy aan verskeie sportsoorte deelgeneem het. Op hoërskool het sy al haar aandag op atletiek en netbal gefokus. Later sou netbal baie deure vir haar oopmaak.
Om vir die Proteas te speel terwyl sy steeds onderwys gee, is geen maklike taak nie, maar juffrou Elmeré slaag daarin deur beplanning en ondersteuning.
“Ek is baie dankbaar dat JF vir my die geleentheid bied om netbal te speel en nog steeds skool te hou. As ek terug is in die land, beplan ek gewoonlik my werk só dat al die leerders se werk klaar is wanneer ek vir netbal moet vertrek. JF help my dan ook met ’n aflosonderwyser terwyl ek weg is.”
As ’n internasionale netbalspeler het sy seker al ’n paar hoendervleisoomblikke gehad, maar haar mees onvergeetlike oomblik is die 2023 Wêreldbeker, toe hulle die volkslied gesing het voor hulle eerste wedstryd en almal hard saamgesing het.
Wanneer sy vir ’n wedstryd voorberei, luister sy in die bus op pad na die baan na haar gunstelingmusiek. Haar span het ook ’n tradisie om musiek in die spanlokaal te speel terwyl hulle gereed maak. Onder die druk van ’n wedstryd bly sy gefokus deur haar unieke tegniek: “As ek my fokus verloor, slaan ek myself liggies op my bobeen en herfokus dadelik.”
Juffrou Elmeré glo dat sport nie net fiksheid bevorder nie, maar ook help om met mense oor die weg te kom. “Omdat mens lank saam op toere is, leer jy hoe om met verskillende persoonlikhede oor die weg te kom, en dit help jou met mensevaardighede.”
Sy se ook dat onderwys vir haar ’n natuurlike keuse was. “Ek het nog altyd daarvan gehou om met kinders te werk en voel ek kan baie vir hulle beteken, veral vir diegene wat wil ontwikkel en verbeter.”
Juffrou Elmeré se storie is ’n bewys dat harde werk, passie en goeie tydsbestuur enige droom moontlik maak. Sy is nie net ’n aanwins op die netbalbaan nie, maar ook in die klaskamer. Ons wens haar alle sukses toe in haar loopbaan, en ons weet sy sal aanhou uitblink.
Berig deur: Theani Botha
0 Comments