Om by klaskamer 112 in te stap, is soos om deur die nostalgiese memory lane van JF-geskiedenis te stap. In dié klaskamer word daar ná 40 jaar steeds met ’n brandende passie (en in tipiese old school-styl met wit op groen) besigheidstudie gegee.
Alhoewel mnr. Hans Grobler bekend is as een van die stiller onnies, kan al sy leerders (en oudleerders) daarvan getuig dat jy nie by sy klas sal uitstap sonder lagplooie en ‘n glimlag nie. Verjaar hy, getuig die gelukwensings en kommentaar op Facebook van ’n man wat alomgeliefd en -gewild was; van iemand met karakter.
Mnr. Grobler het sy onderwysloopbaan onmiddellik by JF afgeskop ná hy in die weermag gedien het. (Ons kan dus met sekerheid sê dat dié onderwyser geen ander bloed as groen JF-bloed het nie.)
Hy het egter nie net groen bloed nie, maar groen vingers ook! Toe hy gevra is oor sy na-aftrede planne, kon hy nie anders as om te spog met sy wye bonsaiboompieversameling nie. Sy versameling strek oor 250 verskillende tipes boompies, en hy sien baie daarna uit om meer aandag aan hierdie interessante boerdery te gee.
Terug na JF. Hy beskryf hoe die ingesteldheid teenoor akademie vir hom die meeste uitgestaan het.
“Daar is ’n uiterse klem op akademie. Ek het dadelik agtergekom dat akademie hier ernstig opgeneem word, deur beide die onderwysers en leerders.”
Hierdie onderwyser het egter self nie op hom laat wag om ’n verskil te maak nie, en sy matrieks kan daarvan getuig dat hy tydens eindeksamens altyd die ekstra myl gestap het deur gefokusde ekstra klasse aan te bied … maar nooit sonder heerlike toebroodjies om die honger mae te stil nie!
In die boek van JF-geskiedenis, sal jy ses skoolhoofde raaklees, wat strek vanaf mnr. PW du Plooy na ons eie mnr. Henri Wilken. Meneer Grobler was onder diens van ’n allemintige vyf van die ses JF-skoolhoofde! Hy is voorts die enigste oorblywende onderwyser wat in 1985 by JF begin skoolhou het.
Hierdie legende skryf sowaar sy eie JF-geskiedenis!
Alhoewel meneer Grobler se hoofstuk by JF vanjaar afsluit, weet ons dat hy nog baie stories het om te vertel en ’n nog vele interessante lewenshoofstukke gaan skryf. Die impak wat hy in sy leeftyd hier gemaak het, is blywend, en vir altyd sal ons hom met deernis onthou as die onderwyser met die goue hart en die groen vingers.
Berig deur: Jaco Deysel
0 Comments