Berig deur: Karli Botha
Jim Fouché se BL-lede is elke skool se droom. Hulle is nie net die vervelige stereotipe van die algemene beheerliggaam nie. Hierdie groep lede is ook normale mense, nes ek en jy. Hulle het ook vrese, geniet ‘n braai, doen sport en hou van wiskunde. Van hulle was ook al kniediep in die moeilikheid.
Kom ons leer hulle beter ken…
Me. Alta Slabbert: Koshuis en Kultuur
Gunstelinggereg?
Daar is sooo baie (ek hou van eet)… Maar seekos en sushi bly ’n gunsteling!
Beste ontspanning na ’n lang dag?
Ek verruil my skoene vir flip-flops, spandeer tyd aan my hanslammers en drink ’n lekker koppie koffie of tonic water.
Grootste vrees?
Ek is baie bang om alleen te swem (swembad, dam, rivier) want ek het ’n vrees vir haaie – toe ek 4 jaar oud was, het ons JAWS gekyk en daarna gaan swem en my ma het geskree JAWS is agter my … Vandaar het ek ’n fobie ontwikkel!
As ek vir 5 minute skoolhoof was, sou ek…
Hmmm…sou ek huiswerk oor sport/inter naweke belet het!
Wat is die stoutste ding wat u op skool gedoen het?
Ek en van my maats het altyd na skool wegkruipertjie in die skoolsaal gespeel tot groot frustrasie van die terreinopsigter.
Mnr. Herman van Vuuren: Dissipline
Gunstelingvak op skool en waarom?
Tegniese Tekeninge – Huiswerk was min.
Wat is die stoutste ding wat u op skool gedoen het?
Ek en ‘n vriend het die skool se een toilet met ‘n cracker opgeblaas.
Grootste vrees?
Spinnekoppe
As ek vir 5min lank skoolhoof was, sou ek…
Lyfstraf terugbring!
Mnr. Rian Marais: Voorsitter
Gunstelingvak op skool en waarom?
Wiskunde, want dit is net lekker!
Gunstelinggereg?
Skaapboud, rys en gebakte aartappels.
Wat is die beste karaktereienskap wat iemand kan hê?
Om lief te hê, onvoorwaardelik.
Sport, Kultuur of Akademie en hoekom?
Sport, want rugby is ‘n manne-ding.
Wat is die stoutste ding wat u op skool gedoen het?
Was te lank terug, ha-ha, kom ons los dit maar daar.
Mnr. Jan Venter: LOO
Wat is een ding waarsonder u nie kan leef nie?
Insulien
Beste ontspanning na ’n lang dag?
Ek speel Playstation
Gunstelingvak op skool en waarom?
Biologie; jy sien God se handewerk in plant, dier en mens.
Wat is die beste karaktereienskap wat iemand kan hê?
Om bedagsaam te wees (ander in ag te neem)
Wat is die stoutste ding wat u op skool gedoen het?
Mekaar “gedare” om golfballetjies so hoog as moontlik teen die dak te bons, toe gooi ek die lig uit!
Mnr. Hanno de Preez: Sport, Akademie, Borge en Fondse
Beste ontspanning na ’n lang dag?
Ek spandeer graag tyd saam met my gesin, en ek sny gras om te ontspan. Klink vreemd, ek weet!
Gunstelinggereg?
Sagte wit brood (sommer winkelbrood), met dik botter en Gouda-kaas.
Wat is een ding waarsonder u nie kan leef nie?
My kaasbroodjies. Dis deel van my dag!
Wat is die stoutste ding wat u op skool gedoen het?
Jong, ek is ‘n lid van die BL. Ek moet mos ‘n voorbeeld wees. “Therefore, I shall not deny nor confirm,” rakende my stoutighede nie! Netnou hoor my kinders dit …
Ek het wel een keer probeer om ’n motor met ‘n “paperclip” oop te sluit, soos ‘n wafferse McGyver.
Mnr. Jaco Els: Tegnologie, Bemarking en Dissipline
Beste ontspanning na ’n lang dag?
Die geheim is om ’n lang dag nog langer te maak met ‘n rondte padel, muurbal of aksiekrieket.
Grootste vrees?
Dat properse toetskrieket ‘n dood gaan sterf. Behalwe daarvoor is ek altyd besorgd oor my gesin en familie se welstand en hulle toekoms.
Wat is een ding waarsonder u nie kan leef nie?
Biltong.
Wat is die stoutste ding wat u op skool gedoen het?
Hier is nie genoeg plek om te skryf nie…en hier is nog een of onnies wat my ken en van niks hoef te weet nie.
Mnr. Johan Kleyn: Finansies en Tegnologie
Wat is die stoutste ding wat u op skool gedoen het?
Ek kan ongelukkig nie sê nie, want hulle weet nou nog nie wie dit gedoen het nie….
Gunstelinggereg?
Rump Steak…medium rare met ’n lekker soet bloukaas-sousie.
Watter raad het u vir JF se leerders?
Eerstens, moet nooit bang wees om foute te maak nie. Dit is uit ons foute dat ons die meeste leer. Tweedens, daar is nie ‘n plaasvervanger vir harde en effektiewe werk nie. Al hou mens nie daarvan nie, sal dit wat jy nou insit, jou die res van jou lewe help.
As ek vir 5min lank skoolhoof was, sou ek…
Die hele skool afgegee het vir ’n week in die middel van die kwartaal.
Mnr. Gerhard (Kerrie) van der Merwe: Ondervoorsitter
Wat is die beste karaktereienskap wat iemand kan hê?
“Jou woord is jou eer.”
Gunstelinggereg?
Braai, Braai, Braai!
Beste ontspanning na ’n lang dag?
Maak vuur en luister musiek.
As ek vir 5min lank skoolhoof was, sou ek…
…vir Henri Wilken aanstel om hoof te wees.
Wat is die stoutste ding wat u op skool gedoen het?
Ek het gejok oor ‘n tandartsafspraak want ek wou nie kadet-orkes oefen nie, toe bel die meneer my ma en so kom my leuen toe uit… Ek onthou nou nog die pakslae voor die HELE orkes.
0 Comments