JF OESTER

Inside Out 2 – Nie net nóg ’n kinderfliek nie!

Jul 30, 2024

Berig Deur Joané de Beer

Inside Out 2 – Nie net nóg ’n kinderfliek nie!

Toe die nuus die eerste keer bekend gemaak is dat daar ’n opvolg van die welbekende film “Inside Out” gaan wees, was die positiewe terugvoer oorweldigend! Almal was opgewonde om te sien hoe Riley grootgeword het en wat haar emosies nou weer gaan aanvang. Ek dink min het verwag dat hierdie film so insiggewend en presies van toepassing sou wees op ons lewens.

Moenie die fout maak om te dink dat Inside Out 2 net nog ’n simpel kinderfliek is nie. Gaan doen jouself ’n guns en kyk dit! ’n Kort beskrywing van die storie: Ons sien dat Riley onlangs dertien geword het en nou amptelik ook ’n tiener is. Met tienerwees, kom daar toe ook puberteit wat daartoe lei dat vier nuwe emosies die hoofkwartiere van Riley se brein binnetree. Angs, verleentheid, afguns of jaloesie, en laastens verveling.

Die ou emosies – vreugde, woede, vrees, hartseer en afsku (“disgust”) stem nie saam met die keuses wat hierdie nuwe emosies maak nie. Die nuwe emosies stuur toe die ou emosies na die agterkant van haar gedagtes, ver van hoofwartiere. Terwyl die ou emosies ’n pad terug hoofkwartiere toe moet vind, neem die nuwe emosies oor en veroorsaak dat Riley begin wonder wie sy eintlik is, baie verward raak met al die nuwe emosies wat sy ervaar en ook maak dat sy baie verkeerde keuses maak. Dit alles ervaar sy terwyl sy op ’n yshokkiekamp is wat haar yshokkie-loopbaan vir hoërskool gaan bepaal.

Nie net is hierdie film so ’n oulike voorstelling van wat in ons breine aangaan nie, maar is dit ook, veral vir ons as tieners, ’n baie akkurate weerspieëling van ons lewens. Ons kan so baie met Riley identifiseer, en dit laat ons ’n bietjie wakker skrik, want… Voel ons nie ook asof ons dikwels tien emosies op dieselfde tyd ervaar nie? Voel ons nie ook verward oor al die nuwe dinge in ons lewens, soos hoërskool, vriende, sportspanne, ensovoorts, nie? Jaag ons nie ook dikwels populariteit en ‘n gevoel van aanvaarding na nie, selfs al beteken dit ons verloor ware vriendskappe? Word ons nie ook gedryf deur die idee dat ons nie goed genoeg is nie? Sit ons nie ook heeltemal te veel druk op onsself nie?

Dié film het my nie net laat wakker skrik oor party dinge nie, maar my ook iets baie belangrik geleer. Dit het my geleer dat as jy toelaat dat negatiewe emosies jou beheer, jy heeltemal gaan vergeet wie jy is. Dit het my ook geleer dat emosies en slegte oomblikke nie bepaal wie jy is nie. Laastens, het dit my geleer dat jy nie net positiewe of negatiewe oortuigings van jouself kan hê nie. Om jouself volwaardig te leer ken, moet jy die blydskap, die kwaad, die angs, en ook die verleentheid erken. Jy moet die goeie en die slegte herinneringe onthou, want ons is nie net goed of sleg nie, ons is ’n wonderlike mengsel van soveel verskillende emosies, oortuigings en herinneringe. Dit is wat ons mens maak!

 

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester Kultuur May 29, 2025

Dit gaan mal by die Maskerbal!

’n Dinosaurus, ’n lyfwag en ’n prinses wals by ’n saal in … Dit klink dalk soos ’n droë grappie, maar dit is helaas nie, want op Vrydag, 9 Mei 2025, kon jy elke sprokieskarakter uit jou kleintyd op JF se dansvloer aanskou by ons eie maskerbal!

Oester KAF May 28, 2025

BOOTLEGGERS

As jy nog nie gehoor het van die nuwe koffiewinkel “Bootleggers” nie, bly jy sekerlik onder ’n klip.

Oester Kultuur May 27, 2025

Die Classic Clash Lofsangaand

JF en Sentraal sit tydens die Classic Clashes beslis nie langs dieselfde vuur as dit kom by wie die beste skool is, of die beste gees het nie, maar een ding waarmee ons almal kan saamstem, is dat beide skole kinders van God is.