Met groot opgewondenheid verwelkom JF vir juffrou Ninelle Jordaan, of soos sy dit verkies: juffrou Nini.Berig deur: Theani Botha
Met groot opgewondenheid verwelkom JF vir juffrou Ninelle Jordaan, of soos sy dit verkies: juffrou Nini.
Sy kom al die pad van Kimberley en gee al vir tien jaar lank skool, maar sy wou nie altyd ’n onderwyseres word nie. Haar passie het begin toe sy as student ’n netbalspan afgerig het, en toe besef het dat sy ’n liefde daarvoor het om kinders te help groei en ontwikkel.
Juffrou Ninelle gaan Wiskunde Gelettertheid vir Graad 10 tot 12 gee, en in 2024 is haar registerklas graad 8F.
Sy sê: “Ek hoop dat JF ’n skool met entoesiastiese leerders sal wees wat trots is op die skool en alle aktiwiteite met daardie gesindheid sal aanpak.” Vir haar is die beste deel van onderwys ongetwyfeld om te sien hoe leerders hulle potensiaal besef en uiteindelik bereik.
Hierdie juffrou is ’n groot boekwurm, maar sy hou ook van die buitelug en sport. Nog ’n interessant brokkie inligting is dat sy ook kreatief is, en haar kreatiwiteit uitleef deur rokke en klere te maak. Haar ‘guilty pleasure’ is om aanlyn-inkopies te doen. Juffrou Ninelle is groot op eerlikheid, wat een van ons skool se waardes is, so sy sal perfek hier inpas!
As sy op ’n verlate eiland gestrand was, dink sy dat sy nie sonder musiek sou oorleef nie, dis nou natuurlik buiten kos en water!
Abraham Lincoln het gesê: ‘We can complain that rose bushes have thorns, or rejoice because thorns have roses.’ Dit is die positiwiteit waarmee juffrou Nini lewe.
Haar gunsteling-Bybelversie is Romeine 12:6-8 [6]: “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. [7] As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. [8] As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.”
Ons is baie opgewonde dat hierdie fantastiese juffrou en mens by ons gaan aansluit, en ons wens haar baie voorspoed toe.
Deur: Theani Botha
0 Comments