JF OESTER

Haar “Foot”-spore lê diep

Dec 5, 2023

Aan die einde van 2023 groet ons ’n groot Wiskunde-liefhebber en ’n juweel van ’n mens, me. Berna Foot. Vir ’n allemintige 19 jaar was sy deel van die JF-familie, maar sy gaan nou ’n welverdiende aftrede geniet.

Hoërskool Jim Fouché staan vir haar uit as gevolg van onderwysers wat regtig inkoop op JF se visie, en werklik vir die leerders omgee. Elke leerder is ’n prioriteit, hetsy dit op sport-,  kultuur of akademiese gebied is.

Leerders wat skielik ’n wiskundekonsep verstaan, word deur juffrou Foot beskryf as ’n hoogtepunt in haar loopbaan as wiskunde-onderwyser. Om leerders te inspireer om lief te raak vir die vak en om te sien hoe hulle selfvertroue groei, was nogal altyd haar dryfveer.  Baie leerders getuig ook daarvan dat sy soos ’n wiskundemamma vir hulle was.

Juffrou Foot vertel dat sy beslis al die vriendelike en hardwerkernde leerders gaan mis en dat dit ’n groot voorreg was wat die Liewe Vader vir haar gegee het om vir 38 jaar in totaal te kon skoolhou. Sy vertel ook dat sy al die hartsvriendinne wat sy gemaak het, asook die personeel, vreeslik gaan verlang. Al die kuiers in die son by atletiekbyeenkomste, al die teebeurte, en soveel meer, gaan sy in haar hart saam met haar dra en elke dag koester.

Hoewel daar baie ligpunte in haar skoolhoujare by JF was, het dié episode vir haar verreweg uitgestaan. ’n Dag wat sy nie sommer sal vergeet nie, was toe ’n onderwyseres een oggend met onpaar skoene by die skool opgedaag het, en noodwendig die res van die dag vir groot vermaak gesorg het!

Juffrou Foot sien vreeslik uit na haar huis. Alhoewel skoolhou haar passie en liefde was, is sy gereed om hierdie hoofstuk af te sluit en met die nuwe een te begin.

“My huis is haar veilige hawe wat soveel geluk, vrede, liefde en vermaak verseker,” vertel juffrou Foot met ‘n tevrede blik.

Haar doenlysie het sy vir seker nie gister eers beplan nie … Sy het soveel om na uit te sien! Sy en haar man is besig om hul tuin en agterplaas ’n bietjie te vernuwe en sy kan nie wag om al die kaste van die huis skoon te maak en reg te pak om van al die opgaargoedjies ontslae te raak nie. As ’n Kalahari-plaaskind was haar droom nog altyd om haar eie groente te kweek, en nou kan sy dit doen met ’n rustigheid wat elke dag vir haar gee. Sy het beslis ook groot planne om beste vriende te raak met elke boek in die biblioteek!

Juffrou Foot se lewensmotto is die bekende gesegde van Snoopy (’n Animasieprentkarakter): “Keep looking up… That’s the secret of life!”

Sy sluit af met die volgende: “Skool is slegs ’n baie kort tydjie van die lewe. Werk dus hard sodat jy werklik ’n goeie loopbaan vir jou daaruit kan kerf. So sal jy, met genade van die Here, vir jou ’n suksevolle en goeie lewe kan bewerkstellig. Mooi loop!”

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester Kultuur May 29, 2025

Dit gaan mal by die Maskerbal!

’n Dinosaurus, ’n lyfwag en ’n prinses wals by ’n saal in … Dit klink dalk soos ’n droë grappie, maar dit is helaas nie, want op Vrydag, 9 Mei 2025, kon jy elke sprokieskarakter uit jou kleintyd op JF se dansvloer aanskou by ons eie maskerbal!

Oester KAF May 28, 2025

BOOTLEGGERS

As jy nog nie gehoor het van die nuwe koffiewinkel “Bootleggers” nie, bly jy sekerlik onder ’n klip.

Oester Kultuur May 27, 2025

Die Classic Clash Lofsangaand

JF en Sentraal sit tydens die Classic Clashes beslis nie langs dieselfde vuur as dit kom by wie die beste skool is, of die beste gees het nie, maar een ding waarmee ons almal kan saamstem, is dat beide skole kinders van God is.