Coenrey Groenewald
Hoërskool Jim Fouché se jaarlikse Netbal-aandliga, wat op 25 Oktober 2023 plaasgevind het, was weer eens ’n opwindende en vermaaklike gebeurtenis wat die skoolgemeenskap saamgesnoer het. Hierdie trotse JF-tradisie is uniek in die opsig dat gemengde spanne (dogters én seuns) deelneem; dat elke span volgens ’n tema aantrek, en, vir die eerste keer in 2023, daar met ’n rugbybal in plaas van met ’n netbalbal gespeel is.
Die hoogtepunt van die aand was die spanne se kreatiewe temas wat hulle met oorgawe aangegryp het. Van superhelde tot bekende fliekkarakters, het elke span ‘n unieke tema gekies, en dit het gesorg vir ’n kleurvolle en geesdriftige atmosfeer op die netbalbane. Dit was duidelik dat die deelnemers baie moeite en tyd in die voorbereiding van hulle kostuums ingesit het, en dit het bygedra tot die algehele opgewondenheid van die aand.
Wat hierdie aandliga nog meer opwindend gemaak het, was die gebruik van ‘n rugbybal in plaas van ’n netbalbal. Dit het ’n speelsheid en uitdagende element aan die wedstryde toegevoeg, en dikwels tot komiese oomblikke gelei. Om te netbal met ’n rugbybal, is vir seker nie elke man se maat nie!
Aan die einde van die onvergeetlike aand het die “Ninja Turtles”-span die geesbeker van die aandliga gewen. Hierdie span, geklee as die welbekende Teenage Mutant Ninja Turtles, het nie net die kompetisie op die baan oorheers nie, maar ook die harte van die toeskouers met hulle uitbundigheid gesteel.
Hoërskool Jim Fouche se aandliga was ’n suksesvolle en prettige gebeurtenis wat nie net die deelnemers nie, maar ook die toeskouers, vermaak het. Dit bewys dat sport nie net om kompetisie gaan nie, maar ook ’n geleentheid skep om net saam te kuier en ’n gees van samehorigheid in die skoolgemeenskap te bevorder.
Mag JF-aandliga nog lank voortleef!
0 Comments