JF OESTER

Daar is altyd lig in die donker!

Mar 25, 2026

Berig Deur Corlé Roos
As jy teen dié tyd van die kwartaal nog steeds wonder waar jy hoort, is daar daar ten minste één plek wat jou met ope arms sal verwelkom: JFFJ se nuwe LITT-kleingroepies. “LITT” staan vir Light in the Tunnel. Hierdie groepe kom elke Woensdagaand om 18:00 by die Multisentrum bymekaar, en dit is hier om te bly!

Tydens die Januarie-kamp het die leiers besef dat dit wat JF se leerders wil hê, opregte Christelike verhoudings is waar jy oor ‘n koppie koffie (wat ook op Woensdagaande beskikbaar is!) net partykeer ’n bietjie dieper kan gesels. Ons het geluister, en dis dan hoe die LITT-groepe gebore is.

Tans is daar 19 groepies wat uit 10-12 tieners per groep bestaan. Weeklikse temas wat behandel word, is bv. God as vader en jou identiteit in God. Dan word daar binne die veilige omgewing van jou groep verskillende perspektiewe gedeel en vrae gevra, wat jou deur hierdie temas begelei.

Indien jy ‘n introvert is en jy al jou moed bymekaar moet skraap net om iemand te groet, is dit dalk moeilik vir jou om alleen na JFFJ toe te kom. Maar gelukkig is daar 43 leiers tydens JFFJ beskikbaar wat jou graag daar wil hê en lekker met jou sal kan gesels. Kom knoop ’n geselsie aan en ons sal jou beslis help om jou plekkie te vind.

Dalk is jou nuwejaarsvoornemens om te oefen teen dié tyd al daarmee heen, en daardie 5 ure se studierooster wat jy aan die begin van Januarie opgestel het, al lankal in die asblik gegooi. Maar miskien is dit wat jy soek nie in handboeke en op die sportveld te vinde nie. Miskien word dit in jou hart wakker op ‘n gewone Woensdagaad om ses, tussen mense wat jy nooit eers verwag het om mee te gesels nie.

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *