Niel Wilken (123 wedstryde),
Christiaan Odendaal (85) en
Cobus Wilken (125).
Julle het JF met trots verteenwoordig en ‘n reusebydrae tot JF-krieket se suksesvolle 2025/26-seisoen gelewer.
Dit is nie elke seisoen wat ons eerste krieketspan die eindstryd haal nie – maar vanjaar het hulle dit reggekry. Ná ’n reeks sterk vertonings en harde werk deur die seisoen, het die span hul plek in die eindstryd teen Grey verdien. Om tot by hierdie stadium van die kompetisie te vorder is reeds ’n prestasie op sy eie, en getuig van die span se deursettingsvermoë en toewyding.
Die eindstryd het vir groot opwinding gesorg, nie net op die veld nie, maar ook langs die kantlyn. Ondersteuners het spesiaal opgedaag om die span aan te moedig. Met gees, entoesiasme en kreatiewe plakkate – selfs netjies gelamineer – het hulle ’n fantastiese atmosfeer geskep wat die spelers se motivering net verder aangevuur het.
Die wedstryd self was intens en spanningsvol, met beide spanne wat alles gegee het. Hoewel Grey uiteindelik met die trofee weggestap het, verander dit niks aan die feit dat ons span ’n indrukwekkende pad tot by die eindstryd gestap het nie. Hulle het deur die seisoen karakter, spanwerk en vasberadenheid getoon, en het hul skool met trots verteenwoordig.
“Ek dink dit is vir ons as span ‘n groot prestasie om weer in die finaal te speel. Ons het hard gewerk en uithouvermoë nodig gehad ná ‘n lang seisoen, maar ons het vasgebyt deur die moeilike tye en saamgestaan,” het Franco de Necker, die onderkaptein, ná die wedstryd gesê.
Hoewel die trofee nie vanjaar huis toe gekom het nie, het die span bewys dat hulle met die beste kan meeding. Hierdie seisoen sal onthou word vir die harde werk, die sterk spanband en die trots waarmee die eerste krieketspan hul skool verteenwoordig het. Die toekoms lyk beslis belowend vir JF-krieket.



0 Comments