Juffrou Magnus het haar pad met JF al in 2001 begin, en in die proses gesien hoe ons skool oor 25 jaar blom. Sy het sélf ’n reuse-bydrae tot die ontwikkeling van JF gehad.
Juffrou Betsie het die behoefte vir emosionele en geestelike ondersteuning in die skool raakgesien, en gehelp om die afdeling vir Leerder Ondersteuning en Ontwikkeling (LOO) op die been te bring. Sy het ook JF se koskas begin, uit haar eie beursie, om families in nood by te staan, en het aanskou hoe dié inisiatief vlamvat. Juffrou Magnus is ook medestigter van Jim Fouché For Jesus (JFFJ), waar leerders saam in Jesus kan groei. Dit is duidelik dat hierdie besondere mens se nalatenskap gróót is!
Juffrou Betsie sê dat sy met een been in die klas en een been in die LOO-kantore gestaan het. Hierdie twee aspekte van haar werk het sy baie ernstig opgeneem, maar net so baie geniet. Of sy nou die een was wat getroos het, of die juffrou in die klas wat geraas het oor onvoltooide huiswerk – dit het geen verskil gemaak aan hoe sy oor haar leerders voel nie. Die leerders en hulle geestelike welstand was vir haar nog altyd belangrik.
Juffrou Betsie is ook ’n bok vir sports. Sy sê dat sy nooit ophou speel het nie. In die klas was daar altyd ’n bietjie pret tussen die EBW- en Ekonomieboeke. Al die JFFJ-kampe was vol speletjies, grappies en herinneringe wat gekoester word. JFFJ is haar hart se punt. Sy sê ook dat sy die Valentynsoggende by die skoolhekke vreeslik geniet het. En dan sal Sweet Caroline wat uit volle bors gesing word, natuurlik altyd een van haar gunsteling-herinneringe bly.
Juffrou Betsie is vir baie leerders ’n baken van hoop, ’n plek van veiligheid en iemand wat omgee. Daar bestaan geen twyfel dat haar leerders vir haar ongelooflik belangrik is en dat sy hulle soos haar eie kinders liefhet nie.
Baie dankie vir al Juffrou se liefde, grappies, ondersteuning en die bydrae wat Juffrou tot elke JF-leerder se groei gehad het. Juffrou het ’n hart van goud en is vir ons só spesiaal. Mag u bloed altyd groen bly en u liggie altyd skyn.
Ons groet u met seer, maar dankbare harte vol kosbare herinneringe en wens u alles van die beste toe.
“My droom vir JF is dat JF altyd in Jesus Christus gevestig sal bly.”



0 Comments