JF se 2026-krieketseisoen het hierdie jaar reeds vroeg afgeskop met die Kovsies Smash wat vanaf 5 tot 9 Januarie 2026 (gedurende die vakansie) plaasgevind het. Terwyl die meeste van julle nog laat geslaap het of op die strande gelê het, was JF se eerste krieketspan een van 19 spanne wat aan hierdie toernooi deelgeneem het.
Sewe wedstryde is in vyf dae gespeel. Alhoewel die spelers ’n paar moeilike wedstryde gehad het, het hulle nie toegelaat dat dit hulle onderkry nie. Hulle het met waardigheid verloor en met nederigheid gewen. Volgens baie van die spelers was die loot-besluit selde in hulle guns, en hulle glo dit het ’n invloed gehad op die uitkoms van die wedstryde.
“Die feit dat die toernooi in die laaste deel van die vakansie plaasgevind het, het ook ’n invloed op ons gemoed gehad,” sê Christiaan Odendaal. Maar al was hulle geesdrif somtyds wankelrig, het elkeen van die spelers tog hulle harte uitgespeel. Volgens Cobus Wilken was die hoogtepunt beslis Johan van Dyk se hat-trick, alhoewel Cobus, volgens sy spanmaats, beslis die JF-speler van die toernooi was. Niel Wilken sê daar was ook heelwat ondersteuners wat kom kyk het hoe hulle JF se naam hoog hou, en oor die algemeen was dit ’n baie goeie toernooi.
Met hierdie tipe toewyding is een ding seker … Ons gaan dié jaar nog baie van JF se eerste krieketspan hoor!



0 Comments