JF OESTER

Welkom by JF: Optimistiese onnie wil leerders holisties ontwikkel

Jan 22, 2026

Berig Deur Melanie Slabbert

Die JF-familie is baie opgewonde om meneer Paul Spies by ons skool te verwelkom.  Hy is ’n energieke en optimistiese onderwyser wat reeds met sy vriendelike geaardheid en passie vir Ingenieursgrafika en Ontwerp (IGO) ’n indruk maak. Vir hom gaan onderwys oor méér as net vakinhoud – dit gaan oor mense, groei en die bou van selfvertroue.

Mnr Spies is ’n gebore Bloemfonteiner en het sy skoolloopbaan by Tjokkies begin voordat hy aan Grey Kollege gematrikuleer het. Ná skool het hy sy B.Ed-graad aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Sy onderwysloopbaan het egter nie dadelik tuis begin nie; hy het eers waardevolle ervaring opgedoen in Greytown, KwaZulu-Natal, waar hy by Greytown High School ’n onderwyser was.

Die keuse om onderwyser te word was vir menere Spies baie persoonlik. Sy pa, self ’n onderwyser, het ’n groot rol in hierdie besluit gespeel. Hy geniet dit om met mense te werk en glo daaraan om jongmense te help ontwikkel – of dit nou in die klaskamer is of langs die sportveld. Sedert 2015 staan hy al voor ’n klas, en dus bring hy nou reeds 10 jaar se onderwyservaring na JF.

By Jim Fouché sien hy daarna uit om deel te wees van die skool se groei en sukses. Sy verwagting is om elke jaar ’n positiewe bydrae te lewer en saam met kollegas en leerders aan ’n sterk skoolkultuur te bou. Sy droom is om soveel moontlik leerders voor te berei vir die “grootmenswêreld” deur hulle holisties te ontwikkel – akademies sowel as buite die klaskamer. Hy bied IGO aan vir graad 8 tot 12.

Wanneer daar oor fobies gesels word, lag hy maklik en erken dat slange en spinnekoppe sy hare behoorlik laat rys. In een woord beskryf meneer Spies homself as optimisties. Hy is gelukkig getroud met ’n oudleerling van Hoërskool Jim Fouché, en saam het hulle drie kinders – tweelingseuns en ’n jong dogtertjie, wat die gesin baie vreugde bring.

In sy vrye tyd hou hy daarvan om te ontspan saam met familie en vriende. Bord- en kaartspeletjies, blokkiesraaisels, swem en PlayStation is van sy gunsteling-aktiwiteite. Rugby was tot onlangs nog aktief deel van sy vrye tyd. Hy verkies sout bo soet, drink graag koffie, en glo vas dat pynappel nie op pizza hoort nie!

As meneer Spies ’n dier kon wees, sou hy ’n perd kies – gedissiplineerd, energiek en altyd bereid om die span vorentoe te dra, selfs wanneer dit moeilik raak. Sou hy ooit op ’n eiland gestrand wees, sal ’n foto van sy gesin, koffie, ’n pak tjips, chili bites en ’n blokkiesraaiselboek beslis deel van sy survival kit wees.

Spreuke 3: 5-6 lê hom na aan die hart en herinner hom daagliks daaraan om in alle omstandighede op die Here te vertrou.  Sy boodskap vir 2026 sluit hierby aan: Met God aan jou sy is geen droom te groot en geen struikelblok te sterk nie. Werk getrou, wees respekvol en behandel ander met liefde en integriteit.

Welkom by JF, meneer Spies – ons sien uit daarna om saam ’n pad van groei, geloof en sukses te stap!

meneer Paul Spies

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester Nuus Feb 5, 2026

Stranger Things 5 was Teleurstellend!

Stranger Things 5 was teleurstellend. Ek en talle ander aanhangers van hierdie reeks is gelos met nog soveel vrae, en soveel dinge maak eenvoudig nie sin nie. Ja, dit was steeds vermaaklik en lekker om te kyk, maar sekere goed het my bloed laat kook.