Hoërskool Jim Fouché verwelkom met ope arms die gr. 8’s van 2026. Vir baie leerders is hoërskool ’n oorlogsveld, en jy as graad aggie is ’n jong soldaatjie. So, hoe oorleef jy ’n volle vyf jaar in JF?
Hier volg ’n paar wenke van ervare JF’ers oor hoe om hoërskool te oorleef:
Observeer.
In jou eerste paar weke gaan jy dalk so ’n bietjie oorweldig voel. Let dus mooi op na alles om jou. Sit terug en observeer. In hierdie tydjie gaan jy vinnig ’n klómp dingetjies oor ons skool se verskillende aktiwiteite leer, en wat dit beteken om trots JF te wees.
Jy word geken aan jou vriende.
Maak seker dat jy ’n goeie stel waardes het sodat jy jou vriende daarvolgens kan kies. Dit is belangrik om die regte vriende te kies, want dit bepaal of jy skool op die regte manier gaan geniet, en of skool vir jou soos ’n stryd gaan voel. Jou kamerade vorm deel van jou reputasie hier by JF; dus moet jy wys kies …
Wees net jouself.
Partykeer wil ons cool wees. Ons wil inpas, en gee dan voor om iets te wees wat ons nie werklik is nie. Maar as cool wees vereis dat jy jouself moet verander en dinge doen wat teen jou beginsels is, bly eerder weg, want op die ou end gaan jy jouself verloor. Dit gaan soms moeilik wees om die regte ding te kies of te doen, veral as jou vriende druk op jou plaas, maar dit is altyd beter om alleen te staan as om alleen te voel tussen ’n groep mense.
Moenie tyd mors nie.
Tyd kan jou vriend wees, maar dit kan ook jou grootste vyand word. Daarom is dit belangrik om nie tyd te mors nie. Doen jou huiswerk getrou en handel take so gou as moontlik af. Moet dit nie uitstel tot op die nippertjie nie. Jy gaan vir jouself baie stres spaar en elke dag gerus en voorbereid oorlog toe gaan.
Neem deel.
Gaan voluit en wees deel van die JF-gees. Baie leerders dink skool is nie lekker nie, maar dit is omdat hulle kies om geleenthede vir pret mis te loop. Daar is soveel meer aan skool as net akademie! Raak betrokke en neem deel aan die prettige aktiwiteite wat skool jou bied.
Omhels die proses
Vyf jaar in JF gaan vinniger verby as wat jy dink. Geniet elke dag voluit. Geniet elke oomblik. Maak baie herinneringe en koester dit. Natuurlik gaan daar dae wees wat jy harder moet baklei om te sien waar die lekker in die oorlog lê, en partykeer gaan ons val en seerkry, maar liewe soldaatjie, geniet die goed én die sleg, die lag én die huil, die wen én die verloor, want voor jy jou oë uitvee, is dit verby.
Hoërskool mag dalk soos ’n oorlogsveld lyk, maar hier by JF word jy voorberei om uit te gaan en te gaan veg. Hier word jy toegerus om te kan oorleef, maar meer as dit – om te floreer! Plant jou vlaggie hier by JF en sing ons oorlogskreet uit volle bors saam.
Droom groot. Droom JF.



0 Comments