Daar is min mense wat die laaste week van hulle Desember-vakansie vir skool sal opoffer, maar gelukkig is die JFFJ-leiers deel van daardie klein groepie! Die leiers het van 6-9 Januarie by Imla- Gasteplaas gekamp, en dit was definitief vier propvol dae!
Skreeusnaakse tonele wat opgevoer word, UNO speel en bergklim was maar net die begin. Die vriendelike personeel en asemrowende uitsigte van die kampterrein het definitief ‘n diep spoor in die JFFJ-leiers se harte gelos, en dit is ook ‘n betekenisvolle herinnering van en uitdaging aan die leiers vir die geestelike spoor wat hulle graag hierdie jaar in elkeen van JF se leerlinge se harte wil trap.
Die kamp se visie was duidelik: Wéés ‘n dissipel en máák dissipels. Die leiers het elke oggend (beslis met ‘n koppie sterk koffie en beskuit) vir karaktereienskappe en roepings van Christelike leiers in die Bybel gesoek. Die karaktereienskappe alleen was ‘n mondvol! Dis dan ook waarvan die JFFJ-leiers hulle inspirasie en passie hierdie nuwe termyn gekry het.
Die JFFJ-onderwysers en hoofleiers het ook elkeen hulle eie unieke sessie vir die leiers gehou waar die leiers ’n bietjie meer kon leer van die eienskappe van ‘n Christelike leier, o.a. iemand wat vergewe, opoffer en weet wat hulle posisie in God is. Tussendeur is daar ook lekker afgekoel en waatlemoen geëet.
Kenmerkend aan die kamp was ook die lofprysingsaande en gesels lang kampvure – sielskosoomblikke wat waarskynlik nog in elkeen van die leiers se gedagtes eggo.
JFFJ se missie hierdie jaar is om meer as net een aand per week bymekaar te kom. Hulle wil JF-leerlinge leer ken en verhoudings bou met elke een van JF se leerders. Hulle wil weet hoe dit regtig met jou gaan en of jy nie dalk ‘n koppie koffie saam met een van hulle wil drink nie.
Uiteindelik wil hulle jou as JF-leerling aan die Een bekendstel waarsonder JFFJ (en JF) niks sou wees nie.



0 Comments