Spanning, lag en ’n bietjie drama – die 2025 VRL-kamp het alles gehad wat ’n goeie avontuur nodig het.
Al van die eerste oomblik af was die kamp vol energie en klein verrassings. Na ’n lang busrit na Drakensville, met ’n paar skerp draaie, het die kampgangers hul huisies betrek, waar die meisies ’n beeldskone uitsig oor die berge kon geniet. Nadat hulle nesgeskrop het, het hulle hulleself vir ’n wateravontuur voorberei en die middag by die swembad deurgebring.
Ná ete is die ys gebreek met speletjies soos “human bingo” en die bou van torings met spaghetti en malvalekkers, saam met die “how to”-sessie van VRL-wees. Dit het die perfekte afsluiting van dag een gebring.
Met ’n nuwe dag het nuwe avonture gewag. Die eerste vlug oor die dam by die zip-line het die adrenalien laat pomp, gevolg deur ’n kompeterende atmosfeer tydens boeresport en die verkiesing van die hoofleiers. Nadat die politieke gedeelte afgehandel is, is daar volleyball gespeel onder die naglug en selfs ’n klein onverwagse besoeker is raakgeloop.
“Ons huisie het ’n klein slangetjie voor ons stoep gekry, en Franco moes hom kom haal.”
Alhoewel die kamp vol pret en avontuur was, het dit ook waardevolle lesse gebring. “Ek het geleer dat sonder kommunikasie en spanwerk niks vlot kan loop nie, want alles wat ons gedoen het, het beide daardie dinge nodig gehad,” sê Calista Viljoen, ’n 2026 matriek VRL-lid.
Uiteindelik het die 2025 VRL-kamp nie net herinneringe geskep wat vir altyd by die kampgangers sal bly nie, maar ook die waarde van samewerking, moed en ‘n bietjie waagmoed beklemtoon. Van die skaterlag tot die adrenalien van die zip-line het elke oomblik gewys dat ’n goeie avontuur nie net oor die aktiwiteite gaan nie, maar oor die mense saam met wie jy dit beleef.



0 Comments