JF OESTER

’n Ster tussen Sterre

Nov 28, 2025

Berig Deur Melanie Slabbert

n Ster tussen Sterre – Amoné skitter as Matrikulant van die Jaar-finalis

In ’n jaar waar harde werk, vasbyt en volgehoue positiewe energie die meeste gewig dra, het Amoné se naam helder uitgestaan. As een van die Matrikulant van die Jaar-finaliste het sy nie net bewys dat sy uitblink in akademie en leierskap nie, maar ook dat haar karakter en waardes diep gewortel is.

Met ’n rustige selfvertroue en ’n hart wat altyd gereed is om te help, beskryf sy haarself as iemand wat die mooi in elke situasie probeer raaksien. Haar lewensfilosofie – ’n Mens kry gewoonlik terug wat jy insit” – het haar deur die uitdagings van matriek gedra, en haar herinner dat struikelblokke bloot verskuilde geleenthede is.

Akademies het Amoné elke jaar erekleure verwerf, ’n bewys van haar deursettingsvermoë en selfdissipline. Sy beplan sorgvuldig, balanseer haar skoolwerk, kultuur- en sportverpligtinge met merkwaardige volwassenheid, en leef volgens haar gunsteling-beginsel: Beplanning verlig spanning. Tog maak sy altyd tyd vir vriende, want, volgens haar, hoe voller die program, hoe meer kry ’n mens gedoen.

Die kompetisie self was vir haar ’n lekker ervaring. Sy het ingeskryf om van mentors met lewenservaring te leer, maar uiteindelik ook baie oor haarself ontdek. Haar grootste les? Dat sy standvastig in haar waardes is en altyd bereid is om ander se perspektiewe met empatie aan te hoor. Een van haar onvergeetlike oomblikke was die spanbou-aktiwiteit waar die finaliste dromme leer speel het – ’n ervaring wat sy beskryf as vry, vrolik en vol saamhorigheid.

Amoné se pad was nie altyd sonder uitdagings nie. ’n Besering in graad 9 het haar atletiekdrome vir ’n tyd gerem, maar dit het haar geleer om elke oomblik te koester. Ná haar herstel het sy harder as ooit gewerk en selfs haar beste resultate daarna behaal.

Wanneer sy oor rolmodelle praat, glimlag sy breed. Haar ouers, sê sy, is die grootste ankers in haar lewe – altyd ondersteunend, altyd op die pawiljoen, altyd haar heel eerste aanmoedigers. Onder druk floreer sy, want haar geloof gee haar rus: sy gee haar beste, en die res vertrou sy aan God toe.

Met haar oë op die toekoms gerig, beplan sy om B.Acc aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer en uiteindelik ’n geoktrooieerde rekenmeester te word. Sy droom daarvan om terug te gee aan haar gemeenskap deur by organisasies sonder winsbejag betrokke te raak en op ’n tasbare manier ander se lewens te raak.

In haar vrye tyd vind sy inspirasie in die Bybel, en min mense weet dat sy ’n swart belt in Taekwondo het – ’n verrassing vir iemand met haar rustige, vriendelike teenwoordigheid!  As sy haar matriekjaar in een woord moet vasvang, kies sy suksesvol – nie net oor die prestasies nie, maar omdat sy die jaar werklik geniet het.

Wanneer mense eendag aan Amoné dink, hoop sy hulle onthou iemand wat betroubaar, positief en opheffend was – iemand met wie jy enigiets kon deel, en wat altyd jou oorwinnings saam met jou gevier het.

En na ’n jaar van groei, geloof en glans, is dit duidelik: Amoné was nie net ’n finalis nie – sy is ’n skitterende inspirasie.

’n Ster tussen Sterre

Kategories

Argiewe

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Oester KAF Jan 22, 2026

2026: Hier gaat ons al weer!

"Dit begin baie rustig en dit eindig baie rof; jy moet huil in die middel en dan moet jy ontplof!” En dit is, in die woorde van Robbie Wessels, hoe dié jaar hier by Hoërskool Jim Fouché begin!

Oester KAF Jan 15, 2026

Deur die lens: JP Crous

Daar is baie min woorde wat kan beskryf hoe dit voel wanneer die Here jou in ’n posisie plaas wat mense gesê het jy nie sal kan doen nie!

Oester Nuus Nov 28, 2025

JF TOER – ‘n REIS VOL HERINNERINGE

Elke jaar sien Hoërskool Jim Fouché se leerders uit na die JF-toer wat jaarliks in die September-/Oktobervakansie plaasvind, maar wat maak die toer so opwindend dat die leerders nie kan wag om op die bus te klim en in die pad te val nie?